Die 21ste veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 9 222 bale, waarvan 94,3% verkoop is, plaasgevind. Die mark het met 1,8% en 325 punte verbeter en teen ‘n waarde van R184,82/kg vir skoonwol gesluit. Daar het geen veiling in Australië hierdie week plaasgevind nie.

Die rand was 1,5% swakker teenoor die Amerikaanse dollar en met 2,9% af teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het 0,2% verbeter in Amerikaanse dollarterme.

Geen veiling in Australië

Weens stelselprobleme was daar nie ‘n veiling in Australië hierdie week nie. Die plaaslike mark het egter sy opwaartse tendens voortgesit.

Openingsvlakke was soortgelyk aan verlede week se veiling, maar het geleidelik verbeter om 1,8% hoër te sluit teen R184,82/kg.

Die swakker rand het tot die hoër pryse op vandag se veiling bygedra en 94,3% van die aanbod is verhandel. Lang, fyn Merino-vagwol was in hoë aanvraag en het die mark opwaarts gestoot, veral in die lig daarvan dat ‘n groot gedeelte van die aanbod uit gekruiste en nie-Merinowolle bestaan het.

Die grootste kopers op die veiling was Modiano SA, Standard Wool SA, Lempriere SA en Stucken & Co.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron styg met 0,5% en sluit teen R201,32/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 1,1% en sluit teen R196,61/kg.
  • 19 mikron verhoog met 3,8% en sluit teen R194,37/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 2,1% en sluit teen R195,33/kg.
  • 20 mikron is 2,1% op en sluit op R188,38/kg.
  • 20,5 mikron is 1,7% sterker en sluit op R183,53/kg.
  • 21,0 mikron styg met 1,6% en sluit op R184,42/kg.
  • 21,5 mikron het 1,9% toegeneem en sluit op R183,53/kg.
  • 22 mikron styg 1,1% en sluit op R182,16/kg.
  • 22,5 mikron is 4,1% beter en sluit op R177,34/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 5 Maart 2020. – Perverklaring, Cape Wools SA