Die 20/21-wolseisoen is vandeesweek voortgesit met ’n groot aanbod van 12 874 bale. Die wolmark het met 1% gedaal om teen R144,07 te sluit, met ’n verkoopspersentasie van 91,03%. Sowat 70% van die aanbod was 20 mikron en fyner, maar net 50% van die aanbod het uit Merinowol bestaan.

Die veiling het traag weggespring, maar het teen die einde van die tweede dag verbeter. Die sterker rand het druk op die mark geplaas en het sowat 1,3% sterker teenoor die Amerikaanse dollar verhandel. Die wolmark het met 0,23% in Amerikaanse dollarterme toegeneem.

Die Australiese mark het met 2,6% verswak, terwyl verkopers te midde van die swakker pryse, wol teruggehou het. Fyn, lang wol het goed vertoon, terwyl volhoubaar-geproduseerde wol, wat 33% van die Merino-aanbod uitgemaak het, beter as die markgemiddeld presteer het.

Die grootste kopers op die veiling was Lempriere SA, Standard Wool SA, Modiano SA en Tianyu SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron daal met 2,5% en sluit teen R176,74/kg.
  • 18,5 mikron neem met 2% af en sluit teen R165,80/kg.
  • 19 mikron verlaag met 1,2% en sluit teen R155,98/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 1,4% en sluit teen R149,83/kg.
  • 20 mikron is 1,9% af en sluit op R141,63/kg.
  • 20,5 mikron is 1,3% swakker en sluit op R138,13/kg.
  • 21 mikron verlangsaam met 1,4% en sluit op R135,68/kg.
  • 21,5 mikron neem met 2,9% af en sluit op R129,62/kg.
  • 22 mikron daal met 0,1% en sluit op R124,39/kg.
  • 22,5 mikron is 0,2% swakker en sluit op R120,78/kg.

Die volgende veiling, waar ongeveer 14 745 bale aangebied sal word, is vir 25 November geskeduleer. – Cape Wools SA