Die wolseisoen is dié week voortgesit, met ’n groter aanbieding van 10 099 bale en ’n algehele verkoopspersentasie van 95,5%. Die wolmark het met 2,2% teruggesak om op R145,60/kg te sluit, terwyl die rand teenoor die Amerikaanse dollar versterk het. Die rand het 0,5% sterker teenoor die Amerikaanse dollar gesluit, wat daartoe bygedra het dat die mark in Amerikaanse dollarterme met 1,6% afgeneem het.

Read it in English.

Die Australiese wolmark het hierdie week met 6,6% gedaal, hoofsaaklik as gevolg van ’n buitengewone groot aanbieding wat nie deur die mark opgeneem kon word nie en tot laer verkope gelei het.

Die meerderheid van die aanbod het uit lang, fyn merinowol bestaan waarvoor goeie mededinging geheers het. Sterker wol het swakker vertoon. Volhoubaar-geproduseerde wol het 22% van die aanbod opgemaak en bo die markgemiddeld presteer.

Die grootste kopers op die veiling was Modiano SA, Lempriere SA, Standard Wool SA en Stucken & Co.

Gemiddelde skoonwolpryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron daal met 1,4% en sluit teen R183,12/kg.
  • 18,5 mikron neem met 1,3% af en sluit teen R170,56/kg.
  • 19 mikron verlaag met 0,9% en sluit teen R160,17/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 2,1% en sluit teen R148,62/kg.
  • 20 mikron is 2,3% af en sluit op R141,61/kg.
  • 20,5 mikron is 2% swakker en sluit op R136,13/kg.
  • 21 mikron verlangsaam met 1,5% en sluit op R135,62/kg.
  • 21,5 mikron het 1,8% afgeneem en sluit op R133,80/kg.
  • 22 mikron daal 2,9% en sluit op R131,34/kg.
  • 22,5 mikron is 2,5% swakker en sluit op R135,22/kg.

Die volgende veiling, waartydens ongeveer 10 052 bale aangebied sal word, is vir 4 November 2020 geskeduleer. Cape Wools SA