Die 34ste veiling van die 2018/19-wolseisoen het met ‘n aanbod van 12 437 bale, waarvan 91,3% verkoop is, plaasgevind. Die mark was onveranderd teen ‘n waarde van R206,07 c/kg vir skoonwol, met die Cape Wools Allewol-aanwyser wat ook onveranderd gesluit het. Die Australiese EMI het met 0,9% toegeneem.

Die rand was 0,6% sterker teen die Amerikaanse dollar en 0,4% af teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het 0,7% verbeter in US dollar terme.

Fynwol lok goeie mededinging

Die laaste veiling vir die 2018/2019 seisoen het onveranderd gesluit te midde van die onsekerheid rakende die uitvoer van vetwol na China.

Fynwol het weereens goeie mededinging ontlok. Mediumlengte wolle, asook die klein volume kortwol, het onder druk gebly omrede die hoofmark China is.

Indien die korter wolle nie verdiskonteer was nie, sou die mark beter presteer het met ‘n algehele verkoopspersentasie van 91,2%.

Die grootste kopers op die veiling was: G Modiano SA, Standard Wool SA, Tianyu SA en Stucken & Co.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron daal met 0,9% en sluit teen R230,32/kg.
  • 18,5 mikron neem af met 0,4% en sluit teen R231,49/kg.
  • 19 mikron verlaag met 0,7% en sluit teen R222,64/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 0,9% en sluit teen R217,39/kg.
  • 20 mikron is 0,4% op en sluit op R217,19/kg.
  • 20,5 mikron is onveranderd en sluit op R213,73/kg.
  • 21 mikron styg met 0,5% en sluit op R217,81/kg.
  • 21,5 mikron het 3,5% toegeneem en sluit op R217,03/kg.
  • 22 mikron styg 2,4% en sluit op R217,28/kg.
  • 22,5 mikron is onveranderd en sluit op R216,42/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 14 Augustus 2019. – Persverklaring