Die 2019/2020 wolseisoen het onlangs hervat met ‘n aanbod van 12 581 bale waarvan 96,1% verkoop is. Die wolmark het met 4,3% en 730 punte verbeter en die mark het op ‘n waarde van R176,47c/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het teen 4,3% beter gesluit, terwyl die Australiese EMI met 1,8% afgeneem het.

Die rand was 4,1% sterker teen die Amerikaanse dollar en 3,2% op teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 8,8% verbeter in Amerikaanse dollarterme.

Goeie mededinging heers

Daar was geen veiling in Australië hierdie week nie, maar die plaaslike mark het die Australiese opwaartse tendens tydens die laaste veiling in Desember gevolg en 4,3% versterk om teen R176,47 per kg te sluit. Die positiewe resultaat is nieteenstaande die 4,1% versterking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar wat daartoe aanleiding gegee het dat die mark met 8,8% in Amerikaanse dollarterme gestyg het.

Goeie mededinging het geheers met sommige mikrongroepe wat beter as die mark vertoon het, hoofsaaklik omrede kopers voorraadvlakke moes aanvul. Volhoubare lotte het weereens goeie mededinging ontlok met kortwol wat onderpresteer het weens die beperkte volumes op die mark.

Die grootste kopers op die veiling was: Modiano SA, Standard Wool SA, Tianyu SA en Lempriere SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë vir goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron styg met 3,7% en sluit teen R189,24/kg
  • 18,5 mikron neem toe met 2,7% en sluit teen R186,09/kg
  • 19 mikron verhoog met 2,9% en sluit teen R184,13/kg
  • 19,5 mikron versterk met 3,5% en sluit teen R183,23/kg
  • 20 mikron is 2,8% op en sluit op R179,22/kg
  • 20,5 mikron is 6,2% sterker en sluit op R177,88/kg
  • 21,0 mikron styg met 1,2% en sluit op R177,50/kg
  • 21,5 mikron het 1,9% toegeneem en sluit op R174,81/kg
  • 22 mikron styg 6,6% en sluit op R179,41/kg
  • 22,5 mikron is 4,9% beter en sluit op R172,05/kg

Die volgende veiling is geskeduleer vir 16 Januarie 2020. – Persverklaring, Cape Wools SA