Die agtste veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod 11 418 bale, waarvan 95,7% verkoop is, plaasgevind. Die wolmark het met 0,5% en 80 punte verbeter. Dit het op ‘n waarde van R169,87 c/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 0,5% verbeter en die Australiese EMI het met 1,9% toegeneem.

Die rand was 1,5% sterker teen die Amerikaanse dollar en 1,3% op teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het 2,1% verbeter in US dollar-terme.

Mark bly redelik bestendig

Die mark het redelik bestendig gebly, nieteenstaande die afwaartse tendens op die eerste dag van die veiling. Die mark het weereens die Australiese mark nagevolg en met 0,5% verbeter te midde van ‘n versterking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar met 1,5%.

Die aanbod het goeie gehalte lang Merinowol ingesluit, wat goeie mededinging tussen die kopershuise uitgelok het. Dit het tot gevolg gehad dat die sektor bo die mark presteer het. Korter wol het swak gevaar omrede die aanbod so klein was, dat kopers nie in staat was om bestellings te vul nie.

Die algehele prestasie was bemoedigend, veral as die wisselvalligheid die afgelope paar weke in ag geneem word. Die grootste kopers op die veiling was Lempriére SA, Modiano SA, Standard Wool SA en Tianyu SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron styg met 2,3% en sluit teen R186,81/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 2,4% en sluit teen R184,35/kg.
  • 19 mikron verhoog met 1,6% en sluit teen R179,45/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 0,6% en sluit teen R175,82/kg.
  • 20 mikron is 1,5% af en sluit op R172,21/kg.
  • 20,5 mikron is 0,8% op en sluit op R173,59/kg.
  • 21,0 mikron styg met 0,9% en sluit op R171,15/kg.
  • 21,5 mikron het 1,5% afgeneem en sluit op R168,09/kg.
  • 22 mikron daal 2,8% en sluit op R166,14/kg.
  • 22,5 mikron is 3,4% swakker en sluit op R164,28/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 31 Oktober 2019. – Persverklaring, Cape Wools SA