Die negende veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 9 767 bale waarvan 97,6% verkoop is, plaasgevind. Die wolmark het met 6,8% en 1 161 punte verbeter. Dit het op R181,48 c/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 6,8% beter gesluit en die Australiese EMI het met 3,2% toegeneem.

Die rand was 3,3% swakker teen die Amerikaanse dollar en 3,6% af teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het 3,4% verbeter in Amerikaanse dollar-terme.

Wolmark nou in volle swang

Die nuwe wolseisoen is in volle swang met verskepingskedules wat normaliseer en redelik stabiele volumes, nieteenstaande die voortgesette droogte in groot dele van die Kaap. Die mark het goed presteer, alhoewel die veiling swakker was met ‘n sterk rand teenoor die Amerikaanse dollar en geen duidelike mark neiging nie.

Die mark het egter aansienlik verbeter met 6,8% te midde sterk mededinging, ‘n swak rand teen die Amerikaanse dollar en positiewe seine vanuit die Austaliese mark. Die grootste sprong was in goeie Merino, lang en mediumlengte spinners en kleedwolstyle. Kopers het aktief meegeding vir die tipes, asook vir gesertifiseerde lotte.

Kortwol het wisselende resultate gelewer met ‘n algehele verkoopspersentasie van 97,6%, wat mededinging onder kopers vir langer en mediumlengte wol beaam.

Die grootste kopers op die veiling was Modiano SA, Standard Wool SA, Lempriére SA en Tianyu SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron styg met 4,0% en sluit teen R194,28/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 5,1% en sluit teen R193,74/kg.
  • 19 mikron verhoog met 5,9% en sluit teen R190,11/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 6,2% en sluit teen R186,75/kg.
  • 20 mikron is 4,5% op en sluit op R181,43/kg.
  • 20,5 mikron is 4,9% sterker en sluit op R179,46/kg.
  • 21,0 mikron styg met 4,8% en sluit op R179,38/kg.
  • 21,5 mikron het 7,0% toegeneem en sluit op R179,80/kg.
  • 22 mikron styg 3,9% en sluit op R172,58/kg.
  • 22,5 mikron is 7,0% beter en sluit op R175,79/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 7 November 2019. – Persverklaring, Cape Wools SA