Die negende veiling van die 2020/21-wolseisoen het onlangs plaasgevind, met ’n totaal van 7 642 bale wat aangebied was. Die wolmark het skerp gestyg met 8,6% om op R146,32/kg te sluit.
Sowat 1 135 bale is voor die aanvang van die veiling onttrek en die algehele verkoopspersentasie was 93,9%. Daar was goeie mededinging vir gehalte merinowolle, veral vir volhoubaar-geproduseerde wol. Goeie gehalte merinowol, veral lang fynwol, het ’n premie behaal.
Die plaaslike wolmark het die Australiese mark, wat met 9,3% in Australiese dollarterme versterk het, nagevolg. Die rand was 0,6% sterker teenoor die Amerikaanse dollar en die mark het in Amerikaanse dollarterme met 9,2% versterk.
Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA, Modiano SA, Lempriere SA en Stucken & Co.
Gemiddelde pryse per kategorie
Die gemiddelde skoonwolpryse vir seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:
- 18, mikron styg met 6% en sluit teen R180,55/kg.
- 18,5 mikron neem met 9,6% toe en sluit teen R170,03/kg.
- 19 mikron verhoog met 9,6% en sluit teen R160,13/kg.
- 19,5 mikron versterk met 7,8% en sluit teen R148,85/kg.
- 20 mikron is 8,9% op en sluit teen R143,34/kg.
- 20,5 mikron is 9,4% sterker en sluit op R137,41/kg.
- 21 mikron styg met 9,4% en sluit op R136,49/kg.
- 21,5 mikron neem met 9,5% toe en sluit op R134,06/kg.
- 22 mikron styg 9,7% en sluit op R135,11/kg.
- 22,5 mikron is 9,4% beter en sluit teen R139,58/kg.
Die volgende veiling, waar ongeveer 6 268 bale aangebied sal word, is vir 21 Oktober 2020 geskeduleer. – Cape Wools SA