Wolmark toon stygende tendens

439
wool season, wool, wolmark

Die wolmark het dié week sy opwaartse tendens voortgesit. Dít kan aan verbeterde marksentiment en ’n swakker rand toegeskryf word.

’n Totaal van 7 713 bale is aangebied met ’n algehele verkoopspersentasie van 92%, nadat 1 264 bale voor die veiling onttrek is.

Lees dit in Engels.

Die wolmark het met 6,2% teenoor die vorige veiling versterk. Die rand het met 3,3% teenoor die Amerikaanse dollar verswak, wat aanleiding gegee het tot ’n toename van 2,7% in Amerikaanse dollarterme.

Fynwol behaal uitstekende pryse

Die Australiese mark het verlede week skerp toegeneem met 10,3%, alvorens dit weer dié week met 3,9% verswak het.

Goeie gehalte fyn Merinowolle, veral fyner as 18,8 mikron, het uitstekende pryse behaal, terwyl volhoubaar-geproduseerde wolle goeie mededinging deur die loop van die veiling ontlok het.

Lempriere SA, Standard Wool SA, Stucken & Co en Modiano SA was van die grootste kopers op die veiling.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 7,1% en sluit teen R167,50/kg.
  • 18,5 mikron neem met 7,2% toe en sluit teen R152,47/kg.
  • 19 mikron verhoog met 6,9% en sluit teen R143,50/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 3,6% en sluit teen R133,24/kg.
  • 20 mikron is 5,4% op en sluit teen R127,08/kg.
  • 20,5 mikron is 6,3% sterker en sluit op R123,48/kg.
  • 21 mikron styg met 5,1% en sluit op R121,10/kg.
  • 21,5 mikron neem met 3,6% toe en sluit op R119,94/kg.
  • 22 mikron styg met 1,7% en sluit op R120,82/kg.
  • 22,5 mikron is 7,3 % beter en sluit op R123,20/kg.

Die volgende veiling, waartydens ongeveer 6 114 bale aangebied sal word, is vir 7 Oktober 2020 geskeduleer. – Cape Wools SA