Die wolmark het hierdie week ’n wesentlike styging van 12,1% getoon en teen R169,71/kg gesluit. ’n Aantal van 13 176 bale is aangebied nadat 2 733 bale voor die veiling onttrek is. Die algehele verkoopspersentasie was 97,2% van dié wat aangebied is.

Read it in English.

Sowat 60% van die aanbod was 20 mikron en fyner, terwyl gesertifiseerde wol 55,8% van die Merino-aanbod behels het. Die goeie gehalte van die wol wat aangebied is, het goeie mededinging gelok en, gepaardgaande met ’n sterk vraag vanuit China, het alle mikrongroepe ’n styging getoon. Die gesertifiseerde wol het weer eens beter as die markgemiddeld presteer.

Die rand het 1,6% swakker teenoor die Amerikaanse dollar verhandel, wat tot ’n 10,31% styging in dollarterme aanleiding gegee het. Die Australiese mark het met 5,99% in Australiese dollar terme teenoor hul vorige veiling wat op 21 Januarie plaasgevind het, toegeneem.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5), was soos volg:

  • 18 mikron styg met 11,8% en sluit teen R220,09/kg.
  • 18,5 mikron neem met 10,8% toe en sluit teen R200,99/kg.
  • 19 mikron verhoog met 12,2% en sluit teen R188,73/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 13,9% en sluit teen R177,92/kg.
  • 20 mikron is 14% op en sluit op R168,06/kg.
  • 20,5 mikron is 15% sterker en sluit op R161,18/kg.
  • 21 mikron styg met 13,1% en sluit op R158,43/kg.
  • 21,5 mikron het 13,3% toegeneem en sluit op R154,60/kg.
  • 22 mikron styg 12,3% en sluit op R146,98/kg.
  • 22,5 mikron is 10,5% beter en sluit op R141,04/kg.

Die volgende veiling is vir 3 Februarie 2021 geskeduleer en daar sal sowat 9 538 bale aangebied word. – Persverklaring, Cape Wools