Die 22ste veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 12 562 bale waarvan 95,2% verkoop is, plaasgevind. Die mark het 3,1% (325 punte) verswak en teen ‘n waarde van R179,09/kg vir skoonwol gesluit. Die Australiese EMI het met 1,2% afgeneem.

Die rand was 0,2% swakker teenoor die Amerikaanse dollar en 2,2% af teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het 3,3% verswak in Amerikaanse dollarterme.

Laer prysvlakke

Die wolmark kon nie die opwaartse tendens van die afgelope paar weke volhou nie en het tydens die week se veiling 3,1% gedaal om teen R179,09 p/kg te sluit.

Die laer skoonopbrengs van die Merino-wolle wat aangebied was het hoofsaaklik bygedra tot die laer prysvlakke. Die Australiese mark het positief begin op Woensdag, maar 1,2% laer op Donderdag gesluit.

Die aanbod het uit ‘n groot volume fyner wol bestaan wat ook die grootste afwaartse druk ondervind het te midde van die markonsekerheid. Die medium mikronkategorieë het beter as die markgemiddelde presteer, veral vir volhoubare geproduseerde wol.

Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA, Modiano SA, Lempriere SA en Stucken & Co.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron daal met 5,1% en sluit teen R191,15/kg.
  • 18,5 mikron neem af met 4,6% en sluit teen R187,60/kg.
  • 19 mikron verlaag met 5,1% en sluit teen R184,50/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 2% en sluit teen R191,42/kg.
  • 20 mikron is 3,3% af en sluit op R182,25/kg.
  • 20,5 mikron is 1,1% swakker en sluit op R181,44/kg.
  • 21 mikron verlangsaam met 2,2% en sluit op R180,32/kg.
  • 21,5 mikron het 1,6% afgeneem en sluit op R180,63/kg.
  • 22 mikron daal 1,1% en sluit op R180,12/kg.
  • 22,5 mikron is 1,2% swakker en sluit op R175,16/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 12 Maart 2020. – Perverklaring, Cape Wools SA