Die 31ste veiling van die 2018/19 wol seisoen het vandag plaasgevind met ‘n aanbod van 11 242 bale waarvan 90,9% verkoop is. Die wolmark verhandel tans hoër en die mark het met 2,5% en 497 punte verbeter om op ’n waarde van R207,39/kg vir skoonwol te sluit. Die Australiese EMI het met 0,7% toegeneem en die Cape Wool Allewol-aanwyser het met 2,5% versterk. 

Die Rand was 2,9% swakker teen die Amerikaanse dollar en 1,9% af tenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het 0,5% verswak in Amerikaanse dollar-terme.

Langwolprys bly konstant

Die wolmark het vandag aansienlik goed vertoon, in ag genome die voortgesette moeilike handelsomstandighede. Goeie kwaliteit lang Merino-vagte het hul prysvlakke behou, terwyl kort- en mediumwol weer eens onder druk was met ’n daling van tot 7%. Die aanbieding het ook uit ’n groot hoeveelheid mediumlengte wol bestaan.

Die aanbod van die dag was hoofsaaklik mediumlengte wol, met nagenoeg 60% van die aanbod 20 mikron en fyner. Dit het goeie mededinging to gevolg gehad vir die fyner kamboltipes, wat verder ondersteun is deur die Rand wat met 2,9% teen die Amerikaanse dollar verswak het.  

Korter wol is steeds onder afwaartse druk as gevolg van die verbod op uitvoer van wol na China.

Die grootste kopers op die veiling was G Modiano SA, Standard Wool SA, Tianyu SA en Stucken & Co.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was as volg:

  • 18,0 mikron het met 3,9% gestyg en op R237,07/kg gesluit.
  • 18,5 mikron het met 2,3% toegeneem en op R230,19/kg gesluit.
  • 19 mikron het met 1,3% verhoog en op R223,83/kg gesluit.
  • 19,5 mikron het met 1% versterk en op R219,89/kg gesluit.
  • 20 mikron het met 1% verbeter en op R216,95/kg gesluit.
  • 20,5 mikron het met 1,1% versterk en op R217,87/kg gesluit.
  • 21,0 mikron het met 2% gestyg en op R217,22/kg gesluit.
  • 21,5 mikron het met 1,6% toegeneem en op R215,52/kg gesluit.
  • 22 mikron het met 3,9% gestyg en op R216,33/kg gesluit.
  • 22,5 mikron het met 3,5% verbeter en op R206,74/kg gesluit.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 15 Mei 2019 wanneer ±5 338 bale aangebied word. – Persverklaring