Die 15de veiling van die 2019/20 wolseisoen het onlangs plaasgevind met ‘n aanbod van 11 326 bale waarvan 95,3% verkoop is. Die wolmark het met 0,5% en 96 punte verbeter en die mark het op ‘n waarde van R177,43c/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het teen 0,5% beter gesluit, terwyl die Australiese EMI met 3,3% toegeneem het.

Die rand was 1,6% swakker teen die Amerikaanse dollar en 2% af teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 1,1% verswak in Amerikaanse dollarterme.

Invloede op die plaaslike mark

Die Australiese mark het goed vertoon op die eerste dag, sywaarts beweeg op dag twee en afwaarts op die laaste dag van dié veiling, met ‘n algehele opwaartse neiging van 3,3% na afloop van die week se veiling.

Die plaaslike mark was wisselvallig as gevolg van die onbestendigheid op die Australiese mark, maar het nieteenstaande positief gereageer en 0,5% opwaarts beweeg. Die mark is nie deur die swakker rand in dollarterme ondersteun nie.

Die positiwiteit rondom die eerste fase van die VSA/Chinese handelsooreenkoms het nie die plaaslike mark beïnvloed nie.

Die grootste kopers op die veiling was: Modiano SA, Lempriere SA, Standard Wool SA en Tianyu SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë vir goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron styg met 1,4% en sluit teen R191,88/kg
  • 18,5 mikron neem af met 0,4% en sluit teen R185,39/kg
  • 19 mikron verhoog met 1,4% en sluit teen R186,69/kg
  • 19,5 mikron verswak met 0,3% en sluit teen R182,71/kg
  • 20 mikron is 0,4% op en sluit op R179,87/kg
  • 20,5 mikron is 0,4% sterker en sluit op R178,61/kg
  • 21,0 mikron verlangsaam met 1,2% en sluit op R175,28/kg
  • 21,5 mikron het 2,4% toegeneem en sluit op R178,97/kg
  • 22 mikron daal 0,6% en sluit op R178,27/kg
  • 22,5 mikron is 1,0% swakker en sluit op R170,34/kg

Die volgende veiling is geskeduleer vir 23 Januarie 2020. – Persverklaring, Cape Wools SA