Wolmark verhandel 0,1% hoër

187

Die Suid-Afrikaanse wolveilings is onlangs voortgesit met ’n aanbod van 6 707 bale. Die aanbod het hoofsaaklik uit goeie, mediumlengte wol bestaan en 93,2% is verkoop. Die mark het met 0,1% (17 punte) teen ’n waarde van R142,50/kg vir skoonwol verbeter. Die Australiese EMI het met 2,6% afgeneem.

Die rand was 0,9% swakker teen die Amerikaanse dollar en 1,2% af teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 0,8% verswak in Amerikaanse dollarterme.

Positiewe prestasie ondanks verswakkende Australiese mark

Nieteenstaande die onsekerheid in die wolmark, het die mark goed presteer en 0,1% hoër gesluit as die vorige veiling, maar het wel met 0,8% verswak in Amerikaanse dollarterme. Die positiewe prestasie was des ondanks die verswakkende Australiese mark, wat met 2,6% teenoor die vorige veiling gedaal het. Die plaaslike mark was verder ondersteun deur die verswakking van die rand met 0,9% teenoor die Amerikaanse dollar.

Goeie mededinging het geheers en die beter gehalte merinowolle in die medium-mikrongroepe, het die mark verder gestut. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA, Modiano SA, Lempriere SA en Stucken & Co.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 2,8% en sluit teen R168,45/kg.
  • 18,5 mikron neem af met 2,1% en sluit teen R156,22/kg.
  • 19 mikron verlaag met 1,7% en sluit teen R151,51/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 1,3% en sluit teen R146,29/kg.
  • 20 mikron is 1% op en sluit op R142,94/kg.
  • 20,5 mikron is 0,7% sterker en sluit op R143,21/kg.
  • 21 mikron styg met 1,9% en sluit op R142,05/kg.
  • 21,5 mikron het 1,7% toegeneem en sluit op R144,85/kg.
  • 22 mikron styg 3,6% en sluit op R139,20/kg.
  • 22,5 mikron is 1,4% beter en sluit op R134,78/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 1 Julie 2020. – Cape Wools SA