Die 19de veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 5 488 bale waarvan 93,8% verkoop is, plaasgevind. Die mark het met 0,4% en 65 punte verbeter en teen ‘n waarde van R178,06/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 0,4% versterk. Die Australiese EMI het met 0,6% afgeneem.

Die rand was 0,8% swakker teenoor die Amerikaanse dollar en 0,2% op teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 0,5% verswak in Amerikaanse dollarterme.

Fyn-mikron wol druk die mark opwaarts

Die plaaslike wolveiling het uit ‘n klein aanbod van 5 488 bale bestaan met ‘n beperkte suiwer-Merino vagwolaanbod.

Alhoewel mediumlengte wolle onder druk was, het die fyner mikron wolle die mark opwaarts gestoot om 0,4% hoër te sluit. Meer as 80% van die aanbod was 20 mikron en fyner.

Goeie mededinging het geheers vir die beter gehalte wol en die mark is verder ondersteun deur die swakker vertoning van die rand teenoor die Amerikaanse dollar. Die plaaslike mark se vertoning is bemoedigend in die lig van die Australiese mark wat met 0,6% gedaal het.

Die grootste kopers op die veiling was Lempriere SA, Standard Wool SA, Modiano SA en Segard Masurel SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron-kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron styg met 0,3% en sluit teen R195,38/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 0,3% en sluit teen R190,89/kg.
  • 19 mikron verlaag met 2,2% en sluit teen R182,46/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 0,3% en sluit teen R185,79/kg.
  • 20 mikron is 0,8% op en sluit op R180,81/kg.
  • 20,5 mikron is 0,8% swakker en sluit op R176,93/kg.
  • 21,0 mikron styg met 0,7% en sluit op R175,63/kg.
  • 21,5 mikron het 3,7% toegeneem en sluit op R178,87/kg.
  • 22 mikron daal 0,8% en sluit op R178,58/kg.
  • 22,5 mikron is 1,4% swakker en sluit op R166,42/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 20 Februarie 2020. – Persverklaring, Cape Wools SA