Die sewende veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 12 282 bale, waarvan 96,8% verkoop is, plaasgevind. Die wolmark het met 0,4% en 75 punte verswak. Dit het op ‘n waarde van R169,07 c/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 0,5% verswak en die Australiese EMI het met 1,7% afgeneem.

Die rand was 1,9% sterker teen die Amerikaanse dollar en 5,2% af teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het 1,4% verbeter in US dollar-terme.

Wolmark toon geringe daling

Die wolmark was redelik stabiel met ‘n geringe daling van 0,4% nieteenstaande die rand wat met 1,9% teen die Amerikaanse dollar versterk het.

Die mark het swakker gevaar op die eerste dag van die veiling, maar wel op die tweede dag verbeter en verliese opgemaak. Goeie mededinging onder die kopershuise het bygedra tot verbeterde pryse vir fyn Merino-kleed vagwol.

Die korter wolle wat aangebied is het goeie mededing uitgelok, veral weens die beperkte aanbod en verbeterde aanvraag van dié tipes wol. Die herstel op die tweede dag van die veiling kan toegeskryf word aan verbeterde sentiment en ‘n opwaartse tendens teen die einde van die Australiese veiling.

Die wisselvallige pryse toon steeds dat daar ‘n mate van onsekerheid heers in die mark. Die grootste kopers op die veiling was Lempriere SA, Standard Wool SA, Modiano SA en Tianyu SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron daal met 0,2% en sluit teen R182,54/kg.
  • 18,5 mikron neem af met 2,1% en sluit teen R180,05/kg.
  • 19 mikron verlaag met 2,8% en sluit teen R176,57/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 2,6% en sluit teen R174,78/kg.
  • 20 mikron is 1,5% af en sluit op R172,21/kg.
  • 20,5 mikron is 1,6% swakker en sluit op R169,64/kg.
  • 21,0 mikron verlangsaam met 1,6% en sluit op R169,60/kg.
  • 21,5 mikron het 0,8% afgeneem en sluit op R170,63/kg.
  • 22 mikron daal 0,8% en sluit op R170,84/kg.
  • 22,5 mikron is 1,3% swakker en sluit op R170,12/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 24 Oktober 2019. – Persverklaring, Cape Wools SA