Die elfde veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 11 449 bale, waarvan 95,9% verkoop is, plaasgevind. Die wolmark het met 1% en 174 punte verbeter. Dit het op ‘n waarde van R174,64/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 2,5% verbeter en die Australiese EMI het met 1,2% toegeneem.

Die rand was 0,7% swakker teen die Amerikaanse dollar en onveranderd teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 0,3% verbeter in Amerikaanse dollarterme.

Fyn Merino-vagwol in aanvraag

In vergelyking met die vorige week, het vandeesweek se veiling het met 1% verbeter. Die verhoging is te midde van ‘n versterkende rand op die tweede dag van die veiling. Fyn Merino-vagwol was in aanvraag en byna 96% van die aanbod is verkoop. Kortwol het ‘n klein persentasie van die aanbod uitgemaak en het goed vertoon in die sterker mikrongroepe.

Die beweging in die Australiese mark het die plaaslike mark positief beïnvloed en pryse het op die tweede dag van die veiling effe afgeplat. Die afplatting was in lyn met die Australiese mark asook wisselkoersbewegings. Goeie onderlinge mededinging tussen kopershuise het gesorg vir bogemiddelde pryse vir gesertifiseerde wolle.

Die grootste kopers op die veiling was Modiano SA, Standard Wool SA, Tianyu SA en Stucken & Co.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron styg met 0,5% en sluit teen R191,67/kg
  • 18,5 mikron neem toe met 1,4% en sluit teen R187,33/kg
  • 19 mikron verhoog met 3,3% en sluit teen R184,19/kg
  • 19,5 mikron versterk met 1,7% en sluit teen R180,28/kg
  • 20 mikron is 1,9% op en sluit op R176,71/kg
  • 20,5 mikron is 2,2% sterker en sluit op R174,60/kg
  • 21,0 mikron styg met 1,4% en sluit op R177,23/kg
  • 21,5 mikron het 0,8% toegeneem en sluit op R177,04/kg
  • 22 mikron styg 3,6% en sluit op R174,50/kg
  • 22,5 mikron is 0,2% beter en sluit op R173,30/kg

Die volgende veiling is geskeduleer vir 21 November 2019. – Persverklaring, Cape Wools SA