Die dertiende veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 12 264 bale, waarvan 95,8% verkoop is, plaasgevind. Die wolmark het met 1% en 24 punte verswak. Dit het op ‘n waarde van R169,17/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 0,2% swakker gesluit, terwyl die Australiese EMI met 1,6% afgeneem het.

Die rand was 0,2% swakker teen die Amerikaanse dollar en 0,5% op teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 0,3% verswak in Amerikaanse dollarterme.

Veiling uitgestel tot Januarie

Die dertiende wolveiling het goed presteer en twee kopershuise het sowat 80% van die wol gekoop. Die komende Chinese Nuwejaar en agterstande met verskeping, het die kopers en makelaars genoop om ooreen te kom om volgende week se veiling uit te stel tot vroeg in Januarie. Sodoende word verseker dat aangekoopte wol die eindbestemmimg tydig kan bereik.

Die Australiese mark het effe verswak en die rand was op soortgelyke vlakke as verlede week. Goeie, fyn mediumlengte Merino-vagwol het goeie mededinging ontlok en bo die gemiddelde markvlak verhandel.

Die grootste kopers op die veiling was Modiano SA, Standard Wool SA, Tianyu SA en Lempriere SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron daal met 0,1% en sluit teen R182,53/kg
  • 18,5 mikron neem toe met 0,7% en sluit teen R181,11/kg
  • 19 mikron verhoog met 0,5% en sluit teen R178,86/kg
  • 19,5 mikron versterk met 1,7% en sluit teen R177,02/kg
  • 20 mikron is 1,4% op en sluit op R174,33/kg
  • 20,5 mikron is 1,2% swakker en sluit op R167,49/kg
  • 21,0 mikron styg met 0,5% en sluit op R175,41/kg
  • 21,5 mikron het 0,3% toegeneem en sluit op R171,54/kg
  • 22 mikron daal 1,7% en sluit op R168,29/kg
  • 22,5 mikron is 0,5% beter en sluit op R164,05/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 9 Januarie 2020. – Persverklaring, Cape Wools SA