Die wolmark het onlangs positief gesluit met ’n 1,1% toename in randterme teenoor die vorige wolveiling en ’n algehele verkoopspersentasie van 93,27%. ’n Totaal van 6 881 bale is aangebied, waarvan 28% van die wol volgens die verantwoordelike wolstandaard gesertifiseer was.

Die rand was wisselvallig en het met 0,58% teenoor die Amerikaanse dollar verswak, wat daartoe gelei het dat die wolmark in Amerikaanse dollarterme met 0,53% toegeneem het.

Beter mededinging en sentiment in die wolmark

Verbeterde marksentiment en goeie mededinging tussen al die kopershuise het tot die verbetering in die wolmark bygedra. Sterker mikrongroepe was onder druk, terwyl fyn, gesertifiseerde wolle beter as die markgemiddeld vertoon het.

Lempriere SA, Tianyu SA, Modiano SA en Standard Wool SA was van die grootste kopers op die veiling.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

• 18 mikron styg met 2,2% en sluit teen R154,01/kg.
• 18,5 mikron neem met 2,8% toe en sluit teen R140,88/kg.
• 19 mikron verhoog met 0,8% en sluit teen R130,73/kg.
• 19,5 mikron versterk met 0,4% en sluit teen R122,73/kg.
• 20 mikron is 1,4% op en sluit op R122,81/kg.
• 20,5 mikron is 2,9% sterker en sluit op R121,25/kg.
• 21 mikron styg met 0,6% en sluit op R118,82/kg.
• 21,5 mikron neem met 1,1% toe en sluit op R119,84/kg.
• 22 mikron styg met 0,4% en sluit op R112,82/kg.
• 22,5 mikron is 1,2% swakker en sluit op R114,12/kg.

Die volgende wolveiling, waar ongeveer 7 314 bale aangebied sal word, is vir 16 September 2020 geskeduleer. Cape Wools SA