Die 16de veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 11 570 bale, waarvan 96,5% verkoop is, plaasgevind. Die plaaslike wolmark was Woensdag, 22 Januarie, onder druk en het met 1,1% en 199 punte verswak om die week teen ‘n waarde van R175,44/kg vir skoonwol te sluit, soortgelyk aan die Australiese mark. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 1,1% verswak en die Australiese EMI het met 2,1% afgeneem.

Die rand was 0,3% sterker teen die Amerikaanse dollar en 0,9% op teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 0,8% verswak in Amerikaanse dollarterme.

Goeie mededinging vir fyner langwol

Die markprestasie was bemoedigend, alhoewel meeste mikrongroepe laer verhandel het. Daar was goeie mededinging vir die fyner langwolle, veral op die tweede dag van die veiling.

Die meerderheid van die aanbod het uit lang fynwol bestaan, met weinig sterkwol wat aangebied is. Die algehele verkoopspersentasie was 96,49%.

Die grootste kopers op die veiling was Modiano SA, Standard Wool SA, Lempriere SA en Tianyu SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron daal met 0,4% en sluit teen R191,12/kg
  • 18,5 mikron neem af met 0,3% en sluit teen R184,75/kg
  • 19 mikron verlaag met 0,5% en sluit teen R185,82/kg
  • 19,5 mikron verswak met 1,0% en sluit teen R180,91/kg
  • 20 mikron is 1,4% af en sluit op R177,32/kg
  • 20,5 mikron is 1,2% swakker en sluit op R176,43/kg
  • 21,0 mikron verlangsaam met 0,4% en sluit op R174,54/kg
  • 21,5 mikron het 3,5% afgeneem en sluit op R172,76/kg
  • 22 mikron daal 2,5% en sluit op R173,84/kg
  • 22,5 mikron is 2,2% swakker en sluit op R166,54/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 30 Januarie 2020. – Persverklaring, Cape Wools SA