Die 18de veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 6 579 bale, waarvan 94% verkoop is, plaasgevind. Die mark het met 1,6% en 278 punte verbeter en teen ‘n waarde van R177,41/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 1,6% versterk. Die Australiese EMI het met 1,9% toegeneem.

Die rand was 0,8% swakker teen die Amerikaanse dollar en 0,6% af teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het in Amerikaanse dollarterme met 0,8% verbeter.

Goeie mededinging vir goeie gehalte wol

Die Suid-Afrikaanse wolmark het sterk vertoon tydens die week se veiling. Die aanbod was kleiner met 6 579 bale aangebied en het hoofsaaklik uit goeie gehalte fynwol bestaan. Dit het daartoe bygedra dat die wolmark 1,5% hoër gesluit het met ‘n verkoopspersentasie van 94%.

Nieteenstaande die uitwerking van die Chinese Nuwejaar en onsekere handelstoestande op sommige kopershuise, het positiewe marksentiment bygedra tot goeie mededinging vir goeie gehalte wol, wat aansienlik beter presteer het as die gemiddelde prestasie van die dag.

Die Australiese mark het 1,9% opwaarts beweeg wat tot ‘n stygende mark bygedra het en die swakker Suid-Afrikaanse rand het die tendens verder ondersteun.

Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA, Modiano SA, Lempriere SA en Stucken & Co.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron styg met 1,0% en sluit teen R194,86/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 3,6% en sluit teen R190,30/kg.
  • 19 mikron verhoog met 1,9% en sluit teen R186,56/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 2,0% en sluit teen R185,25/kg.
  • 20 mikron is 0,5% op en sluit op R179,32/kg.
  • 20,5 mikron is 1,7% sterker en sluit op R178,39/kg.
  • 21,0 mikron styg met 0,6% en sluit op R174,38/kg.
  • 21,5 mikron het 1,1% toegeneem en sluit op R172,52/kg.
  • 22 mikron styg 4,2% en sluit op R179,94/kg.
  • 22,5 mikron is 2,5% beter en sluit op R168,83/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 13 Februarie 2020. – Persverklaring, Cape Wools SA