Die wolmark verhandel tans laer en die Cape Wools Merino-aanwyser het met 1,7% en 342 punte verswak om op ’n waarde van R202,42/kg vir skoonwol te sluit. Die Australiese EMI het met 0,2% afgeneem. Die Cape Wool Alle Wol-aanwyser het met 1,7% verswak.  

Die rand was 1,4% sterker teen die Amerikaanse dollar en 0,8% teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 0,3% verswak in Amerikaanse dollarterme. 

Die wolmark het vandag aansienlik goed vertoon, in ag genome die voortgesette moeilike handelsomstandighede. Goeie kwaliteit lang Merino vagte het hul prysvlakke behou, terwyl kort- en mediumwol weereens onder druk was met ’n daling van tot 7%. Die aanbieding het ook uit ’n groot hoeveelheid medium lengte wol bestaan. 

Die grootste kopers op die veiling was G Modiano SA, Standard Wool SA, Tianyu SA en Lempriere SA. 

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was as volg:  

  • 18,0 mikron het met 2,8% gedaal en op R228,9/kg gesluit.
  • 18,5 mikron het met 0,2% verswak en op R224,97/kg gesluit. 
  • 19 mikron het met 0,6% verlaag en op R220,95/kg gesluit.  
  • 19,5 mikron het met 0,2% afgeneem en op R217,80/kg gesluit.
  • 20 mikron het met 0,7% verswak en op R214,88/kg gesluit. 
  • 20,5 mikron het met 1,6% gestyg en op R215,42/kg gesluit. 
  • 21 mikron het met 0,6% versterk en op R213,07/kg gesluit. 
  • 21,5 mikron het met 1% toegeneem en op R212,13/kg gesluit.  
  • 22 mikron het met 0,4% verbeter en op R208,12/kg gesluit. 
  • 22,5 mikron het met 2,3% afgeneem en op R199,97/kg gesluit. 

Die volgende veiling is geskeduleer vir 9 Mei 2019. – Persverklaring