Die 20ste veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 10 219 bale, waarvan 94,7% verkoop is, plaasgevind. Die mark het met 2% en 351 punte verbeter en teen ‘n waarde van R181,57/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 1,9% versterk en die Australiese EMI het met 0,8% toegeneem.

Die rand het 1,2% swakker vertoon teenoor die Amerikaanse dollar en is met 0,4% af teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 0,7% verbeter in Amerikaanse dollarterme.

Positiewe noot volgehou

Die wolmark het op ‘n positiewe noot geopen, waarna die mark verder verstewig het en goeie mededinging het deur die loop van die veiling geheers .

Die goeie gehalte aanbod van lang, fyn Merino-vagte het selfs groter mededinging ontlok met ‘n algehele verskoopspersentasie van 94,7%. Alle mikronkategorieë het opwaarts beweeg.

Die Australiese mark was effe op hierdie week en met die swakker rand en goeie gehalte wol wat aangebied is, was die prysbeweging vir die Suid-Afrikaanse mark positief.

Die grootste kopers op die veiling was Modiano SA, Standard Wool SA, Lempriere SA en Tianyu SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 2,5% en sluit teen R200,26/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 1,9% en sluit teen R194,49/kg.
  • 19 mikron verhoog met 2,6% en sluit teen R187,17/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 3% en sluit teen R191,36/kg.
  • 20 mikron is 2,1% op en sluit op R184,56/kg.
  • 20,5 mikron is 2% sterker en sluit op R180,54/kg.
  • 21 mikron styg met 3,4% en sluit op R181,54/kg.
  • 21,5 mikron het 0,7% toegeneem en sluit op R180,05/kg.
  • 22 mikron styg 0,8% en sluit op R180,09/kg.
  • 22,5 mikron is 2,3% beter en sluit op R170,29/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 27 Februarie 2020. – Perverklaring, Cape Wools SA