Die agste veiling van die seisoen het die wolmark se opwaartse tendens voortgesit en met 2,4% gestyg om teen R134,77/kg te sluit.

’n Relatiewe klein volume van 5 919 bale is aangebied, met ’n algehele verkoopspersentasie van 93,1%. Wol wat volgens die verantwoordelike wolstandaard gesertifiseer is, het 31% van die verkoopspersentasie uitgemaak.

Die aanbod het uit goeie gehalte wol bestaan, met goeie mededinging vir veral medium en langer volhoubaar-geproduseerde wol.

Die Australiese wolmark sien toename in vraag

Die Australiese wolmark het goeie vraag ondervind en met 2,6% in Australiese dollarterme toegeneem. Die rand het 1,7% sterker teenoor die Amerikaanse dollar verhandel, wat daartoe aanleiding gegee het dat die mark in Amerikaanse dollarterme met 4,2% gestyg het. In die huidige markomgewing is dit bemoedigend.

Die grootste kopers op die wolveiling was Standard Wool SA, Modiano SA, Stucken & Co en Lempriere SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 1,7% en sluit teen R170,27/kg.
  • 18,5 mikron neem met 1,7% toe en sluit teen R155,11/kg.
  • 19 mikron verhoog met 1,8% en sluit teen R146,09/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 3,7% en sluit teen R138,10/kg.
  • 20 mikron is 3,6% op en sluit teen R131,62/kg.
  • 20,5 mikron is 1,7% sterker en sluit op R125,57/kg.
  • 21 mikron styg met 3% en sluit op R124,71/kg.
  • 21,5 mikron neem met 2,1% toe en sluit op R122,46/kg.
  • 22 mikron styg 1,9% en sluit op R123,13/kg.
  • 22,5 mikron is 3,5% beter en sluit op R127,55/kg.

Die volgende wolveiling, waar ongeveer 7 545 bale aangebied sal word, is vir 14 Oktober 2020 geskeduleer. Cape Wools SA

Lees meer oor die vorige wolveiling hier.