Die twaalfde veiling van die 2020/21-wolseisoen het hierdie week plaasgevind, met ’n aanvanklike aanbod van 8 163 bale nadat 182 bale onttrek is. Die wolmark het goed presteer en met 7,9% toegeneem om teen R157,17/kg te sluit.

Hierdie styging in die wolmark, asook ’n algehele verkoopspersentasie van 96,2% is behaal, ten spyte van die rand wat 1,1% sterker teen die Amerikaanse dollar verhandel het.

Groeiende vraag na volhoubaar-geproduseerde wol

Die eerste dag van die Australiese veiling het goed verloop en ’n styging van 7,5% is op dié dag aangeteken. Die tweede dag van die veiling is ná die openbare vakansiedag op 3 November (Melbourne Cup Day), voortgesit.

Daar was goeie mededinging vir fyn, lang Merino-vagwol, met sowat 70% van die aanbod wat fyner as 20 mikron getoets het. Daar was groter mededinging vir volhoubaar-geproduseerde wol, wat 28,4% van die Merinowol-aanbod uitgemaak het. Van dié wol, is 18,6% op die veiling verkoop.

Die grootste kopers was Modiano SA, Lempriere SA, Standard Wool SA en Stucken & Co.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 5,7% en sluit teen R193,53/kg.
  • 18,5 mikron neem met 6,8% toe en sluit teen R182,11/kg.
  • 19 mikron verhoog met 6,6% en sluit teen R170,76/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 8,7% en sluit teen R161,50/kg.
  • 20 mikron is 8,8% op en sluit teen R154,02/kg.
  • 20,5 mikron is 9,7% sterker en sluit op R149,32/kg.
  • 21 mikron styg met 10,9% en sluit op R150,44/kg.
  • 21,5 mikron neem met 6,8% toe en sluit op R142,87/kg.
  • 22 mikron styg 4,6% en sluit op R137,43/kg.
  • 22,5 mikron is 4,6% beter en sluit op R141,40/kg.

Die volgende veiling, waar ongeveer 11 020 bale aangebied sal word, is vir 11 November 2020 geskeduleer. – Cape Wools SA