Die wolmark het effens laer verhandel as gevolg van die sterk rand/Amerikaanse dollar verhouding en het 0,5% laer gesluit teen R151,45.

Read it in English

Dit was weer eens ’n groot aanbod van 14 237 bale, met 4 939 bale wat voor die veiling onttrek is om die volumes hanteerbaar te hou. Altesaam is 96,9% van die bale wat aangebied is verkoop.

Goeie vraag na Merino-wol

Die aanbod het uit goeie gehalte Merino-wol bestaan, met 43% van die Merino-aanbod wat as volhoubaar gesertifiseer is. Daar was ’n goeie vraag na die fyner Merino-wol en uitstekende mededinging vir gesertifiseerde wol. Sterker wol het die mark afgetrek.

Die mark het met 2,2% in VSA$-terme toegeneem, nieteenstaande die sterker vertoning van die rand teen die Amerikaanse dollar (2,7%). Die Australiese mark het op die eerste dag onveranderd verhandel, maar het op die tweede dag 1,5% (AU$) sterker gesluit.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 3,0% en sluit teen R196,79/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 0,1% en sluit teen R181,38/kg.
  • 19 mikron verhoog met 0,6% en sluit teen R168,21/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 1,4% en sluit teen R156,18/kg.
  • 20 mikron is met 2% af en sluit op R147,40/kg.
  • 20,5 mikron is 0,1% swakker en sluit op R140,21/kg.
  • 21 mikron verlangsaam met 2,3% en sluit op R140,14/kg.
  • 21,5 mikron het 3,6% afgeneem en sluit op R136,46/kg.
  • 22 mikron daal 2,1% en sluit op R130,91/kg.
  • 22,5 mikron is 3,4% swakker en sluit op R127,64/kg.

Die volgende veiling is vir 27 Januarie 2021 geskeduleer. – Persverklaring, Cape Wools