Die wolmark verhandel tans hoër en die Cape Wools Merino-aanwyser het met 2,7% en 578 punte gestyg om op ’n waarde van R221,02/kg vir skoonwol te sluit. Die Australiese EMI het met 0,2% toegeneem. Die Cape Wools Alle Wol-aanwyser verhoog met 2,7%.

Nagenoeg 10 000 bale is tydens die veiling deur die wolbeurs opgeveil. ’n Soortgelyke tendens as verlede week is gesien waar die vraag na en kompetisie vir lang, goeie gehalte Merino-wol goed was. Daar heers egter kommer onder kopers dat daar ’n moontlike tekort aan goeie wol in die komende maand kan wees.

Die rand het vir R13,88 teenoor die Amerikaanse dollar en R15,77 teenoor die Euro verhandel. Die rand was 1,3% swakker teenoor die Amerikaanse dollar en 1% laer teenoor die Euro, vergeleke met die vorige veiling. Altesaam 95,6% van die 9 669 bale wat op die veiling aangebied is, is verkoop. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA (2 807), G Modiano SA (2 441), Lempriere SA (1 671), en Tianyu SA (1 167).

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron het met 1,3% gestyg en op R246,15/kg gesluit.
  • 18,5 mikron het met 1,7% toegeneem en op R246,24/kg gesluit.
  • 19 mikron het met 2,3% verhoog en op R239,13/kg gesluit.
  • 19,5 mikron het met 2% versterk en het op R238,59/kg gesluit.
  • 20 mikron het met 2% gestyg en op R231,60/kg gesluit.
  • 20,5 mikron het met 2,2% versterk en het op R229,77/kg gesluit.
  • 21,0 mikron het met 1,7% gestyg en op R227,47/kg gesluit.
  • 21,5 mikron het met 2,3% toegeneem en op R220,73/kg gesluit.
  • 22 mikron het met 2,3% gestyg en op R215,79/kg gesluit.
  • 22,5 mikron het met 2,1% verbeter en op R214,45/kg gesluit.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 30 Januarie 2019, wanneer nagenoeg 5 618 bale aangebied gaan word. – Markverslag

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here