Die 33ste veiling van die 2018/19-wolseisoen het met ‘n aanbod van 8 986 bale, waarvan 94,4% verkoop is, plaasgevind. Die wolmark verhandel tans hoër en die mark het met 1,8% en 373 punte verbeter. Dit het op ’n waarde van R205,98 c/kg vir skoonwol gesluit. Die Australiese EMI het met 3,3% afgeneem en die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 1,8% toegeneem.

Read it in English.

Die rand was 3,9% swakker teen die Amerikaanse dollar en 3,5% af teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het 2,0% verswak in Amerikaanse dollar-terme.

China-verbod onderdruk steeds wolmark

Die mark het met 1,8% toegeneem teenoor die vorige veiling, maar kon hoër vlakke bereik het as dit nie vir die voortgesette verbod op uitvoere na China was nie.

Die plaaslike mark het die Australiese mark se opwaartse tendens nagevolg en is verder ondersteun deur ‘n byna 4% verswakking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar. ‘n Relatiewe klein aanbod van langwol het goeie belangstelling vanaf kopershuise gelok. Die medium en kortwolle se prys was weereens verdiskonteer weens die feit dat die wol vir China geoormerk is.

Die grootste kopers op die veiling was G Modiano SA, Standard Wool SA, Tianyu SA en Lempriere SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was as volg:

  • 18 mikron het met 4,1% gestyg en op R232,52/kg gesluit.
  • 18,5 mikron het met 4,6% toegeneem en op R232,32/kg gesluit.
  • 19 mikron het met 3,9% verhoog en op R224,14/kg gesluit.
  • 19,5 mikron het met 2,6% versterk en op R219,42/kg gesluit.
  • 20 mikron het met 1,6% verbeter en op R216,29/kg gesluit.
  • 20,5 mikron het met 2,7% versterk en op R213,68/kg gesluit.
  • 21 mikron het met 1,1% verhoog en op R216,82/kg gesluit.
  • 21,5 mikron het met 0,3% afgeneem en op R209,75/kg gesluit.
  • 22 mikron het met 0,5% gestyg en op R212,21/kg gesluit.
  • 22,5 mikron het met 4,8% verbeter en op R216,46/kg gesluit.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 5 Junie 2019. – Persverklaring