Die wolmark het op die 30ste veiling van die seisoen verder met 3,7% versterk en teen R162,74/kg gesluit. Altesaam 9 483 bale is aangebied, waarvan die meerderheid Merino-wol met ’n medium lengte was. Die plaaslike mark het die Australiese mark nagevolg met beter kopersentiment, wat pryse opwaarts gedryf het.

Read it in English

Alle mikrongroepe het opwaarts geneig, met die medium-mikrongroepe wat die beste presteer het te midde van goeie kopersmededinging. Die algehele verkoopspersentasie was 96,06%, met goeie naverkope wat die verkoopspersentasie aangehelp het, nieteenstaande verkopersreserwes wat nie bereik kon word nie.

Die Australiese wolmark het met 1,7% (Australiese dollar) toegeneem teenoor die vorige veiling. Die rand het met 0,4% teenoor die Amerikaanse dollar verswak om positief teen 3,27% in Amerikaanse dollarterme te sluit.

Gemiddelde wolpryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 1,9% en sluit teen R213,45/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 1,9% en sluit teen R201,36/kg.
  • 19 mikron verhoog met 1,6% en sluit teen R189,58/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 1,6% en sluit teen R173,60/kg.
  • 20 mikron is op met 2,5% en sluit teen R156,94/kg.
  • 20,5 mikron is 3,3% sterker en sluit teen R152,93/kg.
  • 21 mikron styg met 3,3% en sluit teen R150,20/kg.
  • 21,5 mikron neem toe met 4,8% en sluit teen R144,21/kg.
  • 22 mikron styg met 3,2% en sluit teen R139,46/kg.
  • 22,5 mikron is 0,3% beter en sluit teen R129,93/kg.

Die volgende veiling is vir 5 Mei 2021 geskeduleer, waar sowat 4 672 bale aangebied sal word. – Persverklaring, Cape Wools SA