Die 28ste veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ’n aanbod van 7 603 bale, waarvan 94,4% verkoop is, plaasgevind. Die mark het 4,1% (583 punte) verbeter en teen ’n waarde van R148,55/kg vir skoonwol gesluit. Die Australiese EMI het met 1,1% afgeneem.

Lees dit in Engels.

Die rand was 4,9% sterker teen die Amerikaanse dollar en 1,5% op teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 9,4% verbeter in Amerikaanse dollarterme.

Positiewe deelname van al die kopershuise

Die wolmark het sterk vertoon, ten spyte van die 4,9% versterking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar. Die mark het met 4,1% versterk teenoor die vorige veiling en 9,4% in Amerikaanse dollarterme, met ’n algehele verkoopspersentasie van 94,38%.

Die mark volg die positiewe tendens van die Australiese mark die afgelope week asook vandag se stabiele mark.

Positiewe marksentiment het tot die positiewe deelname van al die kopershuise bygedra. Goeie gehalte wol in die medium-mikrongroepe het beter as die markgemiddeld presteer. Die beperkte aanbod van binlotte en verskerpte mededinging vir volhoubare lotte, vergeleke met twee weke gelede se veiling, het bygedra tot die stygende mark.

Standard Wool SA, Stucken & Co, Lempriere SA en Modiano SA was die grootste kopers op die veiling.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 3,3% en sluit teen R168,89/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 2,5% en sluit teen R167,44/kg.
  • 19 mikron verhoog met 2,1% en sluit teen R157,72/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 4,3% en sluit teen R155,71/kg.
  • 20 mikron is 4,5% op en sluit op R147,08/kg.
  • 20,5 mikron is 3,9% sterker en sluit op R148,19/kg.
  • 21 mikron styg met 4,9% en sluit op R143,13/kg.
  • 21,5 mikron het 3,5% toegeneem en sluit op R147,12/kg.
  • 22 mikron styg 1,2% en sluit op R137,86/kg.
  • 22,5 mikron is 1,9% beter en sluit op R136,52/kg.

Volgende veiling is geskeduleer vir 18 Junie 2020, waartydens ±8 470 bale aangebied sal word. – Cape Wool SA