Die 25ste veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ’n aanbod van 5 382 bale, waarvan 87,9% verkoop is, plaasgevind. Die mark het met 6,4% (988 punte) verbeter en teen ’n waarde van R165,57/kg vir skoonwol gesluit. Die Australiese EMI het met 1,5% afgeneem.

Die rand was 9,8% swakker teen die Amerikaanse dollar en 9,5% af teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 3,1% verswak in Amerikaanse dollarterme.

Eerste elektroniese wolveiling ’n sukses

Ondanks die koronavirus-inperking in Suid Afrika, het ’n elektroniese veiling plaasgevind van bale wat reeds in makelaars se pakhuise was en waarvan waardasies en objektiewe toetsing afgehandel is. Dit was die eerste veiling van die aard en alhoewel dit baie tyd in beslag geneem het en nie sonder tandekry-probleme was nie, is die veiling suksesvol oor ’n tydperk van twee dae afgehandel.

Die aanbod het uit 5 382 bale wol van gemengde lengtes bestaan. Goeie vraag het geheers vir fyner wol, terwyl sterker wol afwaartse druk ondervind het en kopershuise huiwerig was om te koop.

Die mark het goed presteer en met 6,4% toegeneem teenoor die vorige veiling. Die mark was laer in Amerikaanse dollarterme en in lyn met die Australiese mark wat 1,5% af was in Australiese dollarterme.

Die grootste kopers op die veiling was Lempriere SA, Standard Wool SA, Stucken & Co en Modiano SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 13,1% en sluit teen R188,73/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 7% en sluit teen R176,24/kg.
  • 19 mikron verhoog met 7% en sluit teen R172,83/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 5,2% en sluit teen R169,40/kg.
  • 20 mikron is 5,3% op en sluit op R169,20/kg.
  • 20,5 mikron is 6,3% sterker en sluit op R168,90/kg.
  • 21 mikron styg met 7,8% en sluit op R164,97/kg.
  • 21,5 mikron het 3,3% toegeneem en sluit op R167,40/kg.
  • 22 mikron styg 6,2% en sluit op R165,56/kg.
  • 22,5 mikron is 0,2% swakker en sluit op R156,02/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 30 April 2020. – Persverklaring, Cape Wools SA