Die 17de veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 7 275 bale, waarvan 95,7% verkoop is, plaasgevind. Die plaaslike wolmark het met 0,5% en 81 punte verswak om die week teen ‘n waarde van R174,63/kg vir skoonwol te sluit, soortgelyk aan die Australiese mark. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 0,4% verswak en die Australiese EMI het met 1,8% afgeneem.

Die rand was 2,3% swakker teenoor die Amerikaanse dollar en 1,6% af teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 2,7% verswak in Amerikaanse dollarterme.

Wolmark vertoon goed

Die wolmark het goed vertoon te midde van die huidige situasie in China en die Chinese Nuwejaar wat verleng is. Die Australiese veiling het negatief begin en op die tweede dag herstel, maar steeds 1,8% laer gesluit.

Die kopers was versigtig met hul aankope en ‘n algehele verkoopspersentasie van 95,7% is behaal. Daar was goeie mededinging vir langer Merino vagwol en veral volhoubare wol.

Die grootste kopers op die veiling was: Standard Wool SA, Lempriere SA, Modiano SA en Stucken & Co.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron styg met 0,9% en sluit teen R192,90/kg
  • 18,5 mikron neem af met 0,6% en sluit teen R183,71/kg
  • 19 mikron verlaag met 1,4% en sluit teen R183,16/kg
  • 19,5 mikron versterk met 0,4% en sluit teen R181,64/kg
  • 20 mikron is 0,6% op en sluit op R178,41/kg
  • 20,5 mikron is 0,6% swakker en sluit op R175,35/kg
  • 21,0 mikron verlangsaam met 0,7% en sluit op R173,38/kg
  • 21,5 mikron het 1,3% afgeneem en sluit op R170,57/kg
  • 22 mikron daal 0,7% en sluit op R172,67/kg
  • 22,5 mikron is 1,1% swakker en sluit op R164,78/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 6 Februarie 2020. – Persverklaring, Cape Wools SA