Die 23ste veiling van die 2019/20-wolseisoen het 12 Maart plaasgevind met ’n aanbod van 10 213 bale, waarvan 89% verkoop is. Die wolmark het met 0,7% (120 punte) verswak om teen ’n waarde van R177,89/kg vir skoonwol te sluit. Die Australiese EMI het met 2,6% afgeneem.

Read it in English

Die rand was 6,9% swakker teen die Amerikaanse dollar en 7,8% af tenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. In Amerikaanse dollarterme het die mark met 7,1% verswak.

Onverkoopte lotte beïnvloed uitslae

Die wolmark het goed presteer te midde van die volgehoue markonsekerheid.

Die Australiese mark was Woensdag onder druk, maar het Donderdag ietwat herstel om 2,6% laer te sluit. Alhoewel die verswakkende rand die mark ondersteun het, was die verdere verswakking op Donderdag te laat vir kopers om voordeel daaruit te trek.

Kruisraswol was onder druk met onverkoopte lotte wat daartoe aanleiding gegee het dat slegs 88,9% verkoop is. Lang, fyn Merino-vagwol het goeie mededinging ontlok en beter as die gemiddelde mark presteer.

Die grootste kopers op die veiling was Lempriere SA, Standard Wool SA, Modiano SA en Tianyu SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 0,3% en sluit teen R191,81/kg.
  • 18,5 mikron neem met 0,5% toe en sluit teen R188,45/kg.
  • 19 mikron verhoog met 0,9% en sluit teen R186,25/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 0,7% en sluit teen R192,74/kg.
  • 20 mikron is 0,9% op en sluit teen R183,84/kg.
  • 20,5 mikron is 1,2% sterker en sluit op R183,62/kg.
  • 21 mikron verlangsaam met 0,4% en sluit op R179,65/kg.
  • 21,5 mikron neem met 1,9% af en sluit op R177,25/kg.
  • 22 mikron daal 4,1% en sluit op R172,73/kg.
  • 22,5 mikron is 0,1% swakker en sluit op R175,01/kg.

Die volgende veiling sal op 20 Maart 2020 plaasvind. – Persverklaring, Cape Wools SA