Die eerste veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 8 634 bale, waarvan 81,8% verkoop is, plaasgevind. Die wolmark het met 28,3% en 5 837 punte verswak. Dit het op ’n waarde van R147,70 c/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewo-aanwyser het met 28,3% afgeneem en die Australiese EMI het met 27,4% afgeneem.

Die rand was 0,6% swakker teen die Amerikaanse dollar en 1,3% op teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het 28,8% verswak in US dollar-terme.

Sowat 39% van aanbod onttrek

Die Suid-Afrikaanse wolmark het in die eerste week van September 2019 weer geopen, maar weens onsekerheid is sowat 39% van die aanbod onttrek voor die veiling. ‘n Verdere 18% was onverkoop verklaar tydens die veiling. Die aanwyser het met 28,3% gedaal, maar op die eerste dag van die veiling was daar ‘n afname van 34%.

Die Australiese mark het Donderdag verbeter, wat gunstig was vir die plaaslike mark. Daar was goeie mededinging vir langwol met premies vir RWS-geakkrediteerde skeersels. Die medium en kortwolle se prys is sterk verdiskonteer.

Verskeping van verlede seisoen se wol vorder goed, nieteenstaande die feit dat kopers steeds finansiële druk ondervind met die daling in die mark.

Alle aanduidings is dat die marksentiment positief is en markstabiliteit word verwag. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA, Lempriere SA, G Modiano SA en Tianyu SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was as volg:

  • 18,0 mikron daal met 23,4% en sluit teen R176,46/kg.
  • 18,5 mikron neem af met 30,5% en sluit teen R160,99/kg.
  • 19 mikron verlaag met 29,5% en sluit teen R156,97/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 30,2% en sluit teen R151,84/kg.
  • 20 mikron is 31,2% af en sluit op R149,34/kg.
  • 20,5 mikron is 31,1% swakker en sluit op R147,27/kg.
  • 21,0 mikron verlangsaam met 31,7% en sluit op R148,83/kg.
  • 21,5 mikron het 31,5% afgeneem en sluit op R148,68/kg.
  • 22 mikron daal 34,0% en sluit op R143,43/kg.
  • 22,5 mikron is 27,8% swakker en sluit op R156,35/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 12 September 2019. – Persverklaring