Wolmark verswak met 4,2%

394

Die wolmark het 4,2% laer gesluit teenoor verlede week, met 90,1% van die totale aanbod van 8 038 bale wat verkoop is teen ’n waarde van R142,33/kg vir skoonwol. Die mark het met 4,2% (622 punte) verswak terwyl die Australiese EMI met 2,7% afgeneem het.

Lees dit in Engels.

Die rand was 3,3% swakker teenoor die Amerikaanse dollar en 2,3% af teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 7,3% verswak in Amerikaanse dollarterme.

Onbestendige rand bemoeilik verhandeling

Die rand het laer teenoor die Amerikaanse dollar verhandel en die onbestendige rand gedurende die verloop van die dag het verhandeling vir die kopers bemoeilik. Die mark het met 7,3% in Amerikaanse dollarterme gedaal.

Die Australiese EMI was ook 2,7% laer hierdie week en onsekerheid in Sjina het bygedra tot ’n versigtige benadering deur die kopershuise. Daar was egter steeds goeie mededinging tussen kopershuise vir goeie gehalte merinowol wat aangebied was en dit het daartoe gelei dat dié tipe wolle beter as die markgemiddeld presteer het.

Standard Wool SA, Lempriere SA, Modiano SA, en Stucken & Co was die grootste kopers op die veiling.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5), was soos volg:

  • 18 mikron daal met 2,9% en sluit teen R163,93/kg.
  • 18,5 mikron neem af met 4,7% en sluit teen R159,64/kg.
  • 19 mikron verlaag met 2,3% en sluit teen R154,17/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 4,8% en sluit teen R148,27/kg.
  • 20 mikron is 3,8% af en sluit op R141,54/kg.
  • 20,5 mikron is 4% swakker en sluit op R142,20/kg.
  • 21 mikron verlangsaam met 2,6% en sluit op R139,45/kg.
  • 21,5 mikron het 3,2% afgeneem en sluit op R142,37/kg.
  • 22 mikron daal 2,5% en sluit op R134,34/kg.
  • 22,5 mikron is 2,7% swakker en sluit op R132,88/kg. – Cape Wools SA