Die tiende veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 13 541 bale, waarvan 92% verkoop is, plaasgevind. Die wolmark het met 4,7% en 858 punte verswak. Dit het op ‘n waarde van R172,90/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 4,8% verswak en die Australiese EMI het met 2,5% afgeneem.

Die rand was 2,2% sterker teen die Amerikaanse dollar en 3% op teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 2,5% verswak in Amerikaanse dollarterme.

Stewige rand slegte nuus vir wolmark

Die wolmark het met 4,7% gedaal teenoor die vorige veiling en het op R172,90/kg gesluit met ‘n verkoopspersentasie van 92%. Die aanbod het goeie gehalte lang Merinowol ingesluit, met min kortwol wat aangebied was. Die verlangsaming van die Australiese mark is deur die plaaslike mark nagevolg. Dus het die stewige rand pryse verder negatief beïnvloed.

Die mark het effe verbeter op die tweede dag, met groter mededinging tussen die kopershuise. Feitlik alle mikronkategorieë het ‘n afwaartse tendens getoon, behalwe vir enkele groepe wat ook gesertifiseerde wolle ingesluit het.

Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA, Modiano SA, Tianyu SA en Lempriere SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron daal met 1,8% en sluit teen R190,77/kg
  • 18,5 mikron neem af met 4,7% en sluit teen R184,66/kg
  • 19 mikron verlaag met 6,2% en sluit teen R178,28/kg
  • 19,5 mikron verswak met 5,1% en sluit teen R177,26/kg
  • 20 mikron is 4,4% af en sluit op R173,45/kg
  • 20,5 mikron is 4,8% swakker en sluit op R170,88/kg
  • 21,0 mikron verlangsaam met 2,5% en sluit op R174,83/kg
  • 21,5 mikron het 2,3% afgeneem en sluit op R175,69/kg
  • 22 mikron daal 2,4% en sluit op R168,37/kg
  • 22,5 mikron is 1,6% swakker en sluit op R172,91/kg

Die volgende veiling is geskeduleer vir 14 November 2019. – Persverklaring, Cape Wools SA