Die derde veiling van die 2019/20-wolseisoen het onlangs met ‘n aanbod van 11 390 bale, waarvan 92,8% verkoop is, plaasgevind. Die mark het met 5,3% en 871 punte verbeter. Dit het op ‘n waarde van R172,31 c/kg vir skoonwol gesluit. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 5,3% versterk en die Australiese EMI het met 4,8% toegeneem.

Die rand was 2,7% swakker teen die Amerikaanse dollar en 2,2% af teenoor die Euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het 2,6% verbeter in US dollar-terme.

Wolmark vertoon sterk

Fynwol het afwaartse druk ondervind met goeie mededinging vir langer wolle, wat aanleiding gegee het tot ‘n algehele verkoopspersentasie van 92,8%. RWS-gesertifiseerde wolle het weereens ‘n premie verdien teenoor ander wol.

Verbeterde marksentiment, gekombineer met ‘n swakker rand teenoor die VSA dollar en beperkte voorraad vir uitvoerbestellings, het goeie mededinging vir die beter tipes wol meegebring. Die grootste kopers op die veiling was Modiano SA, Standard Wool SA, Lempriere SA en Stucken & Co.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron styg met 4,7% en sluit teen R190,23/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 3,8% en sluit teen R185,94/kg.
  • 19 mikron verhoog met 3,7% en sluit teen R182,36/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 7,4% en sluit teen R182,88/kg.
  • 20 mikron is 6,8% op en sluit op R178,95/kg.
  • 20,5 mikron is 5,6% sterker en sluit op R175,94/kg.
  • 21,0 mikron styg met 4,7% en sluit op R173,95/kg.
  • 21,5 mikron het 3,1% toegeneem en sluit op R171,63/kg.
  • 22 mikron styg 6,2% en sluit op R168,61/kg.
  • 22,5 mikron is 0,3% swakker en sluit op R172,33/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 2 Oktober 2019. – Persverklaring, Cape Wools SA