Daar word elke jaar met groot verwagting na die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se kongres uitgesien. Dit is een van die oudste kommoditeitsorganisasies in Suid-Afrika en het vanjaar op 12 en 13 Junie sy 90ste jaarkongres by die Pine Lodge-konferensiesentrum in Port Elizabeth gehou.

Die NWKV se bestuur, wolmakelaars, produsente, sprekers en die media het in diepte na volhoubaarheid in die waardeketting van die Suid-Afrikaanse wolbedryf gekyk.

Guillau du Toit, voorsitter van die NWKV, het ’n openingsrede en strategiese verslag gelewer. “Die NWKV se eerste kongres is in 1930 gehou en ons gaan deurlopend tydens hierdie kongres kyk na wat intussen in die wolbedryf gebeur het,” het hy gesê. Sy kernboodskap was dat wolprodusente uitdagende omstandighede in die gesig staar en alles moet uithaal om volhoubaar te kan boer.

Operasionele verslag

Die NWKV se bestuurder, Leon de Beer, het ’n operasionale verslag oor die afgelope jaar gelewer en ook terugvoer gegee oor die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO) se 88ste kongres. Hy het dié kongres, wat deur 25 lande bygewoon is, van 9 tot 11 April in Venesië, Italië, bygewoon.

Hy het verwys na die feit dat Merinovesel se prys toegeneem het, terwyl ander wolpryse afwaarts neig. “Woluitvoere in Australië het met 8% toegeneem en in Suid-Afrika met 2%, wat grootliks toegeskryf kan word aan droogtes,” het hy gesê.

Volgens Leon is daar tydens die IWTO-kongres gesê dat vooruitsigte vir die jaar se wolproduksie en woltekstielbedryf steeds positief is, terwyl nog navorsing gedoen word om die voordele van wol vir menslike gesondheid te bewys.

Ekonomiese prentjie

Dr Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) en stigter van die Sentrum vir Risiko-analise (SRA), het Suid-Afrika se ekonomie en tendense bespreek.

Hy het verskeie interessante statistieke gedeel. Die prentjie wat hy van Suid-Afrika se ekonomie oor die afgelope dekade geskets het, was nie te rooskleurig nie. “Ons ekonomie het gestagneer, wat daartoe gelei het dat werkloosheid en geweld toegeneem het. Die keuses wat ons regering in die nabye toekoms gaan maak, gaan ’n groot rol in Suid-Afrika se toekoms speel.”

Marshall Allender van The Woolmark Company het gefokus op waarom dit belangrik is om wol vir ’n volhoubare mark te bemark, en hoe die Veldtog vir Wol te werk gaan om dit te doen.

Dalena White van die IWTO het ’n oorsig van hul aktiwiteite gegee, en klem gelê op die IWTO se rol as ’n voorstander van dierewelsyn. “Ons fokus ook baie sterk daarop om die gesondheidsvoordele van wol te bemark, aangesien baie mense nog ’n wanpersepsie daaroor het,” het sy verduidelik.

Wolf Edmayr, besturende direkteur van BKB, dr Frans Cronjé van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge en stigter van die Sentrum vir Risiko-analise, Chris Louw, voorsitter van BKB, en Hendrik van Zyl, produsent.

’n Verantwoordelike wolstandaard

Deon Saayman, algemene bestuurder by Cape Wools SA, het klem gelê op die feit dat die term ‘volhoubaarheid’ in die toekoms ‘n al groter rol gaan speel.

Deon Saayman, algemene bestuurder by Cape Wools, het produsente gemaan om die term ‘volhoubaarheid’ met groot erns op te neem.

Hy het die volgende vrae aan die afgevaardigdes gerig: “Is ons Kode vir Beste Praktyke genoeg om volhoubare wolproduksie in terme van dierewelsyn te verseker? Wat moet die Suid-Afrikaanse wolbedryf doen om te verseker dat ons praktyke op dieselfde vlak as internasionale praktyke is om te verseker dat ons aan langtermyn-mikpunte voldoen?”

Deon het verwys na die feit dat Cape Wools SA produsente graag wil help om ’n wolstandaard te ontwikkel wat hulle sal laat kwalifiseer vir die Verantwoordelike Wolstandaard (‘Responsible Wool Standard’). “Ons het toegewyde produsente, maar ons benodig volhoubare wolproduksieriglyne wat in lyn is met internasionale standaarde,” meen hy.

Belangrikheid van biosekuriteit

Dr Pieter Vervoort van die Nasionale Dieregesondheidsforum het die belangrikheid van biosekuriteit beklemtoon. “Die bek-en-klouseeruitbreking in die noordelike provinsies kan na enige ander provinsies versprei, soos die Oos-Kaap, waar daar ’n groot buffelbevolking is. Produsente sal uiters versigtig moet wees om dié siekte uit hul troppe te hou.”

Hy het verder gesê dat produsente voorbereid moet wees vir wanneer ’n endemiese siekte uitbreek, en nie daarop moet staatmaak dat dit nooit gaan gebeur nie. Dr Vervoort het afgesluit met die volgende voorstel: “Ons sal geld moet belê in siekte-oplossings. Dit is ’n belegging in die toekoms, soos die varkbedryf en Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) alreeds doen.” Guillau du Toit, NWKV-voorsitter, het by dr Vervoort se boodskap aangesluit. Hy het gesê die tyd is ryp vir ’n plan van aksie teen die uitbreking van siektes, eerder as om te wag totdat dit uitbreek en dan, wanneer dit te laat is, vure te probeer doodslaan.

‘n Resep teen predasiebestuur

Niel Viljoen is ’n predasiespesialis op 27 moniteringsplase en glo ongetwyfeld dat veeprodusente saam met hul vee bloei. “Baie teorieë bestaan oor predasiebestuur, maar die realiteit en dit wat ons graag wil hê, is soms wêrelde verwyder,” het hy benadruk.

Volgens Niel bepaal die topografie van ’n plaas die predasiebeheermetodes wat toegepas moet word. Na sy mening is die ‘gereedskapskis’ van beheermetodes wat die beste resultate oplewer, die volgende:

  • Isolasie van diere met jakkalswerende draad.
  • Krale (snags).
  • Elektrifisering met roep en skiet.

“ ’n Kombinasie van al drie hierdie voorgestelde metodes het definitief ’n positiewe uitwerking op ’n produsent se speenpersentasie,” het hy bygevoeg. “Ongelukkig maak minstens 60 tot 70% van produsente nie van hierdie metodes gebruik nie.”

Niel het afgesluit deur te beklemtoon dat opleiding (wat hy ook aanbied) en produsente-aanpasbaarheid nodig is vir kennis en oorlewing.

Toekennings

Die volgende toekennings is gemaak:

  • Bennie van der Merwe-wisseltrofee (NWKV): Burgersdorp Studiegroep.
  • Beste kommunale skeerhuis (geborg deur Zoetis): Luzi in Area 24.
  • Beste ekonomies geklasseerde skeersel (geborg deur The New Zealand Merino Company Ltd): Johan Jooste, Kabod Boerdery van Wolwekop, Victoria-Wes.
  • Hoogste prys betaal vir die seisoen (SAWAMBA): Stewart Dewing van Highlands in die Cathcart-distrik vir R251/kg.
  • Personeel-langdienstoekennings.
Louis du Pisani van die NWKV (regs) oorhandig die Bennie van der Merwe-wisseltrofee aan Sunette Botha-du Toit van die Burgersdorp Studiegroep.

Verkiesing van bestuur

Die NKWV-bestuur se lede is almal herverkies. Hulle is SK Makinana, ondervoorsitter, Billy van Zyl, ondervoorsitter, Guillau du Toit, voorsitter, en Leon de Beer, bestuurder. – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel Bonita Francis van die NWKV by 041 365 5030 of stuur ’n epos aan nwga@nwga.co.za.