Die 2019/20-wolseisoen het onlangs op ’n positiewe noot afgesluit, met sowat 94,1% van die 9 753 bale wat verkoop is. Die mark het met 0,9% (130 punte) verbeter en teen ’n waarde van R145,66/kg vir skoonwol gesluit. Die Australiese EMI het met 1,8% toegeneem.

Lees dit in Engels.

Die rand was 0,9% sterker teen die Amerikaanse dollar en 0,3% op teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 1,9% verbeter in Amerikaanse dollarterme.

Volhoubaar-geproduseerde wolle vertoon goed

Die mark het langsaam begin met goeie toenames op die tweede dag om 0,9% op teenoor die vorige veiling te sluit. Die rand was wisselvallig, maar het 0,9% sterker gesluit teen die Amerikaanse dollar, met ’n 1,9% toename in Amerikaanse dollarterme.

Die Australiese mark het ook laer geopen maar positief gesluit. Die goeie gehalte Merino-vagwol het sterk mededinging uitgelok, veral in die medium-mikronklasse. Volhoubaar-geproduseerde wolle het goed vertoon.

Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA, Modiano SA, Stucken & Co en Lempriere SA.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron daal met 2% en sluit teen R167,48/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 0,4% en sluit teen R159,12/kg.
  • 19 mikron verhoog met 0,3% en sluit teen R152,40/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 1,9% en sluit teen R150,01/kg.
  • 20 mikron is 0,2% op en sluit op R146,69/kg.
  • 20,5 mikron is 0,3% sterker en sluit op R144,02/kg.
  • 21 mikron styg met 1,3% en sluit op R144,74/kg.
  • 21,5 mikron het 1% afgeneem en sluit op R144,34/kg.
  • 22 mikron daal 1,5% en sluit op R140,90/kg.
  • 22,5 mikron is 1,7% beter en sluit op R137,85/kg. – Cape Wools SA