Die vyfde wolveiling van die huidige seisoen het onlangs met ’n kleiner aanbod van 6 508 bale en ’n algehele verkoopspersentasie van 97,8% plaasgevind.

Die aanbod het hoofsaaklik uit goeie gehalte fynwol bestaan, wat goeie mededinging meegebring het. Nieteenstaande die rand se versterking van 2,8% teenoor die Amerikaanse dollar, het die wolmark met 3,3% teenoor die vorige veiling versterk. In Amerikaanse dollarterme het die mark met 6,26% versterk.

Australiese mark versterk

Die Australiese mark het met 5,3% in Australiese dollarterme versterk. Dié mark word hoofsaaklik deur ’n verbetering in vraag vanuit China gedryf. Fyn langwol, sterker kortwol en veral volhoubaar-geproduseerde wol, het beter as die markgemiddeld presteer.

Lempriere SA, Standard Wool SA, Tianyu SA en Modiano SA was van die grootste kopers op die veiling.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 3,6% en sluit teen R156,46/kg.
  • 18,5 mikron neem met 3,2% toe en sluit teen R142,29/kg.
  • 19 mikron verhoog met 2,7% en sluit teen R134,20/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 4,8% en sluit teen R128,60/kg.
  • 20 mikron is 4,1% op en sluit teen R120,54/kg.
  • 20,5 mikron is 3,5% sterker en sluit op R116,14/kg.
  • 21 mikron styg met 3,5% en sluit op R115,17/kg.
  • 21,5 mikron neem met 1,6% toe en sluit op R115,77/kg.
  • 22 mikron styg 0,9% en sluit op R118,85/kg.
  • 22,5 mikron is 0,6 % beter en sluit teen R114,85/kg.

Die volgende wolveiling is vir 23 September 2020 geskeduleer. Cape Wools SA

Klik op die skakel om die resultate van die vorige wolveiling te besigtig.