Die Mededingingstribunaal het onlangs die samesmelting van Woodlands Dairy in Humansdorp en Fairfield Dairy by Howick voorwaardelik goedgekeur.

Woodlands Dairy word deur Gutsche Family Investment Beperk beheer, terwyl Fairfield Dairy Beperk aan die Lang-familie behoort. Albei ondernemings doen landwyd sake en fokus op die vervaardiging en verspreiding van botter, kaas, room, gegeurde melk, Amasi en vars melk.

Volgens die aansoek by die Mededingingstribunaal sal Woodlands Dairy oor ’n tydperk en in fases totale beheer van Fairfield Dairy oorneem. Die Fairfield-melkkudde is egter nie deel van die ooreenkoms nie, en sal as onafhanklike entiteit voortgaan.