Parmalat se 10-maande Mature Gouda, wat uitsluitlik vir Woolworths vervaardig word, is tydens vanjaar se Agri-Expo Qualité toekenningsdinee op 23 Maart 2018 by GrandWest vir die tweede jaar in ‘n ry as die Suid-Afrikaanse Suiwelproduk van die Jaar gekroon. Dié prestasie is ‘n eerste vir die SA Suiwelkampioenskappe, wat vanjaar sy 185ste bestaansjaar vier.

Kliek hier om die volledige uitslae te sien.

Die Gouda, ʼn aromatiese en intens-gegeurde kaas, was een van 945 suiwelprodukte van 83 produsente wat meegeding het om die aandag van 84 beoordelaars, waaronder voedseltegnoloë, kaashandelaars, kosskrywers en bekende sjefs. Slegs agtien produkte uit die magdom inskrywings is met die Qualité merk van gehalte vereer, terwyl 105 as SA Kampioene aangewys is.

“Vir ‘n produk om gekies te word as Suiwelproduk van die Jaar in ‘n kompetisie van hierdie omvang, is ‘n lang en moeilike reis en die droom van elke suiweltegnoloog,” vertel Kobus Mulder, hoofbeoordelaar en internasionale suiwelkundige. “Dat hierdie eer vanjaar se wenner van die gesogte titel vir die tweede jaar in ‘n ry te beurt val, is uitsonderlik. Nie net is dit ‘n besonderse prestasie nie, maar ook ‘n bewys van volgehoue goeie vervaardigingspraktyke en kwaliteitbeheer deur die personeel van die vervaardiger. Tegnies en gastronomies is die Parmalat 10-maande Mature Gouda so na aan perfek as wat ‘n voedselproduk kan kom.”

185 jaar met rekordgetal inskrywings gevier

Die SA Suiwelkampioenskappe word reeds sedert 1834 met groot sukses deur Agri-Expo aangebied. “Die kampioenskappe het vanjaar gegroei tot tien kategorieë met meer as 100 klasse vir eindprodukte in die prosesseringslyn van die bedryf,” sê Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo. “Die toename in inskrywings oor die afgelope paar jaar benadruk die belangrikheid van hierdie kampioenskappe vir individue, klein en medium ondernemings, sowel as nasionale en internasionale maatskappye. Vanjaar se uitslae getuig van ‘n innoverende bedryf en gesonde kompetisie tussen groter vervaardigers en kleiner entrepreneurs, met ‘n totaal van sewe Qualité’s wat aan Parmalat toegeken is, vier aan Belnori Boetiekkaasmakery en ‘n goeie verdeling tussen die ander wenners. Boonop tel vyftien nuwelinge onder vanjaar se deelnemers.”

2018 Qualité wenners:

Parmalat SA (7)

  • Woolworths Matured Gouda 10 Months
  • Woolworth Vintage Cheddar – White
  • Woolworths Matured Gouda 20 Months
  • President Matured Gouda 6 Months
  • UHT Low Fat Milk
  • Medium Fat Yoghurt – Choc Chip
  • Medium Fat Yoghurt – Fruited – Strawberry

Belnori Boutique Cheesery (4)

  • Kabaka
  • Kalabash
  • Highvelder Classic
  • Tanglewood

Baris Cheese

  • Vliedermaus – Bloomy Rind with Vegetable Ash

Coega Dairy

  • Ritebrand UHT Low Fat  Milk

Dalewood Fromage

  • Boland

Dutch Goat Farm

  • Goat’s Gouda

Fair Cape Dairies                             

  • Full Cream Yoghurt – Vanilla Flavoured  with Chocolate Chips

Ladismith Cheese Company

  • Round Gouda

Langbaken Karoo Cheese

  • Karoo Crumble

 

Vir meer inligting en die volledige uitslae, besoek http://www.cheesesa.co.za of kontak Agri-Expo by +27 (0)21 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za.

Suiwel-entoesiaste kan baie van hierdie topgehalte suiwelprodukte by die Suid-Afrikaanse Kaasfees proe van Vrydag 27 tot Sondag 29 April by Sandringham buite Stellenbosch. Vir meer inligting, besoek www.cheesefestival.co.za. – Persverklaring

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here