Santam LandbouDie Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie het in 2018 sy vyfde Santam Landbou kuilvoerkoning aangewys. Die soektog het nou weer begin om die 2019 Santam Landbou kuilvoerkoning te vind. Word deel van die kuilvoer-elite. Inskrywings open reeds op 1 Desember 2018 en sluit op 4 Maart 2019 vir wintergrane en 6 Mei 2018 vir somergrane. Daarna volg die monsternemingsproses en toetsing. Die wenner sal oudergewoonte tydens ALFA aangekonding word. ALFA 2019 vind van 17 tot 19 September plaas en die kuilvoerkoning sal op 19 September aangewys word.

Westend Landgoed kraai weer #Kuilvoerkoning

 Westend Landgoed naby Morgenzon was die algehele wenner in 2018 se Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie – ’n uitstekende prestasie aangesien Westend Landgoed ook 2017 se Santam Landbou Kuilvoerkoning was. Die landgoed het ook die kategorie vir mieliekuilvoer gewen.

Die land se vyfde Santam Landbou Kuilvoerkoning is op 18 September 2018 tydens die jaarlikse ALFA-galadinee en prysuitdeling gekroon. Vanjaar se wenbunker is deur die maatskappy Nutribase ingeskryf.

Belangrike aspekte

Westend Landgoed se boerdery bestaan uit verskeie vertakkings, maar die kuilvoer word grotendeels gemaak vir die melkery, waar met 1 000 koeie in koeihuise geboer word. Sowat 20 000 ton kuilvoer word jaarliks gemaak.

Hano, wat die boerdery saam met sy pa, Hannes, bedryf, sê die enigste geheim wat hy werklik kan deel is dat hulle baie aandag aan die fyner detail van die kuilvoermaakproses gee. Die Westend-span het geen moeite of koste ontsien om te verseker dat hul kuilvoer van hoogstaande gehalte is nie.

Een van die belangrikste komponente is dat hulle die kuilvoer met hul eie masjien sny. Dit beteken dat hulle nie hoef te wag tot ’n masjien beskikbaar is nie en dus op presies die regte tyd kan sny. Volgens Hano is dié uitgawe beslis die moeite werd.

Keuse van kultivar

“Die keuse van kultivar wat vir die kuilvoer geplant word, is net so belangrik. Pleks van om ’n kultivar met baie blare te kies, volg ons die algemene beginsel dat ’n kultivar wat goeie graanopbrengs gee, eintlik ook ’n goeie kuilvoerkultivar is.

“Aandag aan die voorbereiding van die bunker asook die toemaakproses is uiters belangrik. Die bunkers se vloere is van beton, maar die wande is met kuilvoerseile uitgevoer om suurstof- en vogindringing te voorkom. Baie moeite word met die toemaakproses gedoen. Dit sluit bolaagbehandelings in om verliese te voorkom, asook dat die seile op die nate inmekaargevou word en dat bande skouer aan skouer regoor die bunker gepak is. Dit alles is natuurlik om suurstof- en vogindringing te voorkom.

“Kompaksie word deurgaans gemeet en wanneer die kompaksietempo nie byhou het met die snytempo nie, word die snytempo vertraag deur waens terug te hou of word nog ’n kompaksietrekker bygesit,” vertel hy.

Uitstaande uitslae

Richardt Venter, wat ook as kuilvoerkonsultant by Westend Landgoed optree, het verskeie hoogtepunte in die uitslae van Westend se inskrywing in die kompetisie as uitstaande uitgelig.

Richardt sê Westend Landgoed se mieliekuilvoer was ’n uitstekende voorbeeld van goeie gehalte mieliekuilvoer. “Westend se kompaksie binne-in die bunker was 274,75kg/m³, wat ver bo die gemiddeld van 237kg/m³ was en ook bo die teiken-kompaksie van 263kg/m³. Vanjaar se kuilvoer was ten opsigte van ruproteïen selfs nog beter as verlede jaar s’n. Die ruproteïen het met 0,7% tot 8,8% verhoog teenoor verlede jaar se syfer van 8,1%.

“stysel van 31,08% bevat, wat goed vergelyk met die gemiddeld van die kompetisie. Die pH was 3,74, wat goed vergelyk met verlede jaar se 3,77. Die totale verteerbare voedingstowwe van 73,1 was baie goed en bo die kompetisiegemiddeld. Laastens was die droëmateriaal-inhoud goed op 39,02%.”

Nutribase se betrokkenheid

Jaco Faasen, produkbestuurder van Nutribase, sê veral die goeie bestuur op die plaas het hulle laat besluit om Westend Landgoed vir die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie in te skryf.

“Westend Landgoed is bekend vir hul uitmuntende bestuur in alle fasette op die plaas, veral met die maak van kuilvoer. Hulle het dit reeds bewys toe hulle tevore ook as Kuilvoerkoning gekroon is. As die verskaffer van kuilvoer-inokulante aan Westend was dit vir ons ’n voorreg om deel te vorm van hul harde werk en sukses om vir die tweede keer as Kuilvoerkoning gekroon te word.

“Omdat ons maatskappy die verskaffer is van produkte wat vir hul kliënte waarde toevoeg wanneer hulle kuilvoer maak, heg ons waarde aan verskeie parameters waarna in die kompetisie gekyk word. Die kompetisie stel ons dus in staat om ’n databasis vir kliënte te skep, wat noukeurig nagegaan kan word om te bepaal waar verdere verbeterings in die volgende kuilvoerseisoen aangebring kan word,” sê Jaco.

Nutribase is die afgelope twee jaar by die kompetisie betrokke en sien daarna uit om in die toekoms ook deel van dié waardevolle kompetisie te bly.

Waarde van kompetisie

Richardt sê die verslag wat die kompetisie lewer, gee aan die bedryf ’n maatstaf om na te streef. “Die kompetisie gaan nie net oor wie gewen het nie. Ongeag waar jy in die kompetisie geland het, is daar nou realistiese bedryfswaardes tot jou beskikking om jouself teen te vergelyk. Dit kan jou help om jouself nie met onrealistiese oorsese teikens wat ’n mens aanlyn kry, te vergelyk nie.

“Die gemiddeld op die verslag is die eg Suid-Afrikaanse gemiddeld van 62 uitstaande bunkers. Enige maatstaf waar deelnemers swakker as die gemiddeld is, gee onmiddellik vir hulle ’n aanduiding van waar hulle kan verbeter. Sover my kennis strek, gee geen ander kompetisie in die landbou so ’n tipe verslag aan die deelnemers nie.

“Deelnemers moet dus die verslag tot hul voordeel gebruik om jaar na jaar aan te hou verbeter. Ek raai deelnemers aan om hul syfers met die gemiddeld, minimum, maksimum en standaardafwyking (of statistiese variasie) te vergelyk.

“Veronderstel byvoorbeeld jy het 2% organiese materiaal op die bolaag verloor, maar die gemiddeld was 21%. Dan weet jy jou gemiddeld was eintlik uitstekend, maar jy weet ook dat jy daarna kan streef om dit volgende keer so goed soos die minimum afwyking van 0% te kry. Jy weet ook dat dit so sleg soos 88%, wat die maksimum gemete waarde is, kon gewees het. So, vir elke enkele parameter sien jy waar jy is, waar jy kon gewees het, wat regtig goed is en wat regtig sleg is.”

Algehele verbetering

Tydens die konferensie voor die galadinee, het prof Meeske kommentaar oor die kompetisie in die algemeen gelewer. Hy het onder andere verwys na die feit dat die droëmateriaal-inhoud, stadium van inkuiling en aërobiese stabiliteit oor die vyf jaar van die kompetisie aansienlik verbeter het. Gebiede waarop verbetering steeds nodig is, is onder andere kompaksie en die afseël van die bolaag.

Bly op hoogte van #kuilvoerkoning 2019

Moenie die geleentheid laat verbygaan om die koning van Suid-Afrika se kuilvoer-elite te word nie. Deelname aan die kompetisie bied nie net ’n geleentheid vir erkenning nie, maar gee jou ook kans om jou kuilvoer te evalueer en teen dié van ander boerderye te meet. Volg Veeplaas en Stockfarm op sosiale media en volg die hutsmerk, #kuilvoerkoning, om op hoogte van sake te bly. Vir meer inligting kontak Michelle Verster by michelle@plaasmedia.co.za of 083 375 4641.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here