Stellenbosch se wyn- en sportlegende, Jan Boland Coetzee, is op Donderdag 6 Februarie 2020 met die ikoniese 1659-erepenning vereer by die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid op die geskiedkundige Groot Constantia-wynlandgoed in Kaapstad.

Coetzee, wat aan die Weskus grootgeword het en ‘n graad in wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het, se roemryke wynmaakloopbaan het in 1968 by die Kanonkop-wynplaas buite Stellenbosch begin. Dié wynmaker het terselfdertyd ook op die rugbyveld naam gemaak – nie net het hy die Westelike Provinsie destyds vir ‘n rekordgetal van 127 wedstryde verteenwoordig nie, maar ook ses keer as Suid-Afrikaanse Springbok uitgedraf.  

Net so bekend as wat Coetzee is vir sy kundigheid van wingerd en wyn, so vernaam is sy reputasie vir die opheffing van landbouwerkers en die wynlandgemeenskappe. As deel van sy pioniersrol op die gebied van maatskaplike opheffing was hy in die 1970’s een van die stigterslede van die Landelike Stigting, ’n baanbrekerorganisasie wat daarna streef om die woon- en werkomgewing van plaaslike mense te verbeter. Hy was een van die stigterslede van die Kaapse Wynmakersgilde en is ‘n voormalige trustee van dié gilde se ontwikkelingstrust wat veral deur hul protégé-program terugploeg in die gemeenskap.

In 1980 het Coetzee die plaas Vriesenhof teen Stellenboschberg bekom, waar hy vandag steeds bedrywig is. Wanneer hy nie wynmaak nie, geniet hy dit om te jag, vis te vang aan die Weskus saam met sy kleinkinders, of om saam met vriende oor ‘n glasie wyn te kuier. ‘n Eredoktorsgraad in die natuurwetenskappe in landbou is in 2018 deur die Universiteit van Stellenbosch aan hom toegeken.

Volgens dr Ernest Messina, voorsitter van Groot Constantia, word die 1659-erepenning reeds sedert 1974 aan persone toegeken wat diep spore in die wynbedryf getrap het. Met vanjaar se toekenning wil die direksie van Groot Constantia hul verbintenis herbevestig tot die verdere herstel van menswaardigheid, die uitbou van trots in die wynbedryf en die aanmoediging van beste praktyke.

Jan Boland Coetzee, 2020 se ontvanger van die 1659-erepenning.

“Die 1659-erepenning vir visionêre leierskap in die bedryf is ingestel om positiewe bydraes te erken en te vereer,” sê dr Messina. “Vanjaar se leier is juis so ‘n persoon. Jan Boland Coetzee lewer ‘n konstruktiewe bydrae om die wynbedryf op ‘n hoër vlak te plaas. Die bedryf is beslis beter daaraan toe met sy visie en betrokkenheid. Sy tasbare optrede om groter menswaardigheid, trots en eer aan die bedryf en al haar mense te verleen, is onmiskenbaar. Hy het mense se lewens diep geraak en spore getrap wat moeilik uitwisbaar is. Ons glo sy bydrae sal ander inspireer om sy voorbeeld te volg.”

Coetzee het in sy ontvangstoespraak gesê die wêreld se beste wyne is ten nouste verbind met die gees van die plek, die plante en die persone wat dit produseer, “veral mense met geduld, passie, noukeurigheid en ‘n vreugde om te deel in oorvloed.”

Gaste het ‘n fynproewersete deur Simon’s Restaurant, bekroonde Groot Constantia-wyne en wêreldklasvermaak deur lede van die Libertaskoor geniet. Die Wynoesherdenkingsgeleentheid word moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning en vennootskappe van Groot Constantia-landgoed, Die Burger, Standard Bank, Vinpro en die TOPS at SPAR Wine Show. Agri-Expo is die organiseerder. – Persverklaring, Agri-Expo