Wyn uit die Noord-Kaap trek internasionale aandag

1106

Die Noord-Kaap is bekend vir twee dinge: Droogtes, en mense wat vir niks stuit nie en altyd kans sien om ’n sukses van ’n nuwe uitdaging te maak.

Hennie Coetzee en sy seun, Bertie, is ’n goeie voorbeeld van laasgenoemde. Hul plaas, Lowerland, in die Prieska-distrik, was aanvanklik ’n Merino- en perdeplaas, maar spog nou met die Hencoe Bonsmarastoet én met van die beste wyne op die internasionale mark.

Die 2018 Lowerland Vaalkameel Colombard

Dit is veral hul Vaalkameel Lowerland Colombard van 2018 wat die aandag van die internasionale wynkenner, Michael Fridjhon, getrek het.

Bertie is baie trots op Lowerland se Vaalkameel Colombard-wyn van 2018, wat deur internasionale kenners as die beste in die wêreld beskryf is.

In een van sy gereelde artikels in Business Day, vertel hy op kleurvolle wyse hoe hy gehoor het van die wynmaker, Lukas van Loggerenberg, wat besonderse wyn van druiwe uit die Karoo gemaak het. Hy het ’n wenk gekry dat die Lowerland Vaalkameel Colombard van 2018 uit die boeke is en het ’n soektog op tou gesit na dié wyn – wat in Engeland teen £30 per bottel verkoop word – en uiteindelik ’n kas in die hande gekry.

Hy beskryf die wyn só (uit Engels vertaal): “Dit was net so goed as wat ek beloof is – gekonsentreerd, vol energie, ingespanne en terselfdertyd net ryk genoeg om werklike dimensie te lewer. Wie sou kon dink dat Prieska in die Noord-Kaap die oorsprong sou wees van die beste Colombard op aarde?”

Sukses kom al ’n lang pad heen

Hierdie prestasie het nie sommer vanself gebeur nie. Op Lowerland is die eerste rosyntjiedruiwe in 1965 aangeplant en die eerste wyndruiwe in 2000.

In 2013 het Bertie, ná sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch, by sy pa op die plaas aangesluit. Sy visie vir die wingerde was om holistiese en volhoubare bestuurspraktyke toe te pas wat omgewingsbewaring en herlewingslandbou vooropstel.

Organiese wyn en natuurlike prosesse

Die wingerde is organies gesertifiseerd. “Die koedoes snoei die wingerde, die bakoorjakkalse en uile doen pesbeheer, en pekanneutdoppe (ook deel van hul boerdery) en die Bonsmarabeeste sorg vir bemesting,” vertel Bertie.

Sy droom was om ook die wynmaakproses so natuurlik as moontlik te hou, en daar het hy ’n sielsgenoot in sy wynmaker, Lukas van Loggerenberg, gevind. Die resultaat van hul proses is ’n uitsonderlike wyn wat reeds die tonge op die plaaslike en internasionale mark laat klap. Lowerland se wyne word met lof in Brittanje, Nederland, Switserland, Amerika en selfs Brasilië ontvang. – Koos du Pisanie, AgriOrbit