Wynbedryf groet ’n groot gees

266

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf moes oor die afgelope naweek afskeid neem van ’n groot gees in die bedryf, en een van die stigterslede van Vinpro. Pieter Hugo, bekende wyndruifprodusent in die Slanghoekvallei, is in die oggend van 10 Julie 2020 aan longfibrose oorlede.

Read it in English

“Pieter was een van die mees gerespekteerde produsente in die bedryf, wat met sy besigheidsuitkyk ’n voorbeeld gestel en juis nie net gepraat het nie, maar ook gedóén het. Hy laat diep spore na as visionêre leier, mentor en vriend,” sê Vinpro-voorsitter Anton Smuts. “Ons innige meegevoel gaan aan sy familie, vriende en bondgenote.”

Na hy ’n BSc Landbou-graad aan Stellenbosch Universiteit behaal het, het Pieter na hul familieplaas in die Slanghoekvallei teruggekeer, waar hy waardevolle ondervinding onder die mentorskap van sy pa, voormalige KWV-voorsitter Pietman Hugo, opgedoen het.

In die 1980’s het hy en sy gesin na die ou familieplaas, Hugoskraal, verhuis en het hy oor die jare nog ’n aantal plase in die Breedekloofvallei verkry, wat vier van sy vyf seuns onder sy mentorskap oorgeneem het.

Diens en betrokkenheid by verskeie wynrade en-komitees

In sy meer as 40 jaar in die wynbedryf het Pieter op verskeie direksies gedien, waaronder die Breërivier Botteleringsmaatskappy, KWV, Arbelos-wyne en Botha- en Slanghoek-kelders. Hy het ook holisties gedink, wat in sy betrokkenheid op direksies en rade van die Wes-Kaapse en Suid-Afrikaanse landbou-unies, provinsiale en nasionale watersake-komitees en die destydse Koöperatiewe Wynkelderskomitee weerspieël is.

Maar Pieter het ’n nóg belangriker pioniersrol in Vinpro se geskiedenis gespeel as deel van die adviesraad wat in 2002 getaak was om Vinpro tot stand te bring. Na sy uittrede as lid van die Vinpro-direksie, uitvoerende raad en finansiële komitee in 2014, is hy in 2018 as ’n erelid van Vinpro vereer vir sy wesenlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Man van min woorde en groot wysheid

“Pieter het die binnewerkinge van die wynbedryf geken en verstaan, en altyd die primêre produsent se saak eerste gestel. Hy was ’n man van min woorde wat eers alle argumente uitgeluister en erkenning aan al die standpunte gegee het, maar wanneer hy sy wel-deurdagte insette gegee het, het dit ’n groot indruk gelaat,” sê Anton. “Ons sal hom werklik mis.” – Persverklaring, Vinpro