Die alombekende Wynland Laboratorium in Wellington in die Wes-Kaap se voetspoor het onlangs aansienlik vergroot sedert dit deel van die NviroTek-laboratorium-groep vorm.

NviroTek, wat op sy beurt onder die Suidwes Landbou-sambreel staan, is in Hartbeespoort en het pas ’n aandeel van 80% in Wynland Laboratorium verkry. Dit beteken dat NviroTek nou die plaaslike onafhanklike landboulaboratorium is met die wydste reeks dienste in Suider-Afrika.

Wynland Laboratorium het in 1991 ontstaan en lewer voedselverwante ontledingsdienste in die omliggende omgewing aan voedsel- en botteleringfabrieke asook vir groot handelsname in die bedryf.

Dié laboratorium het homself oor die afgelope tien jaar as ’n spesialis in die mikrobiese ontleding van voedselsoorte en drinkwater, asook chemiese ontleding van drinkwater, besproeiingswater, afvalwater, grond en plantmateriaal gevestig. Monitering van verskeie produkte om die geskiktheid daarvan vir menslike gebruik vas te stel, asook die toets van die higiëniese status van voedselverwerkingsaanlegte val in hul kraal. Wynland is ook bekend vir hul toetse vir bakterieë op ’n wye reeks voedselsoorte en wyne. Wynland kon tydens die onlangse uitbreking van listeriose menige produkte vroegtydig identifiseer wat met die organisme besmet was. Dit het tot gevolg gehad dat dié produkte betyds aan die mark in die Wes-Kaap onttrek kon word.

NviroTek se uitvoerende hoof, Dailena Pienaar, sê hulle ondersoek al ’n geruime tyd die geleentheid om hul geografiese voetspoor en spyskaart van dienste uit te brei. “Die regte laboratorium met die regte reputasie het op die regte tyd oor ons pad gekom en dié ooreenkoms stel ons nou in staat om bykomende dienste te bied ter ondersteuning van kliënte wat betrokke is by voedselsekerheid en die voedsel-waardeketting.

“Waar NviroTek tradisioneel net op chemiese en fisiese ontledings gefokus het, bring Wynland nou die mikrobiologiese komponent as deel van ’n eenstop-diens vir hul kliënte. Vir die eerste keer kan ons nou ’n diens aan die landbouprodusent, die landboukundige adviseur en aan die handelsmark lewer – van die beplanningsfase, regdeur tot die gehaltebepaling van eindproduk op die rak.”

NviroTek se primêre mark was tot dusver die landboubedryf, waar chemiese ontleding van blare, grond, water, kunsmis, kalk, weidings en veevoere gedoen is.

Hulle doen grondontledings om die voedingstatus na aanleiding van die gewas wat die produsent wil plant, te bepaal. Dit stel produsente en hul adviseurs in staat om kalk- en kunsmistoedienings te verfyn om die grond se voedingstatus te optimiseer.

Verder ondersoek NviroTek ook die voedingstatus van verskeie gewasse deur middel van hul blare. Landboukundige adviseurs gebruik die resultate saam met grondontledings om ’n unieke bemestingsplan vir die nuwe produksieseisoen te formuleer.

Die resultate van veevoer-ontledings word gebruik om die optimale rantsoen te formuleer en om die gehalte van grondstowwe te monitor. Wynland lewer ook ’n diens aan hierdie bedryf, onder andere deur monitering vir Salmonella wat veral in die pluimveebedryf uitdagings bied. Ontledings van weidingsgewasse bepaal watter bykomende elemente benodig word om die perfekte voeding daar te stel.

NviroTek ontleed verskeie vorms van kunsmis, veral waar vervaardigers die behoefte het om ’n nuwe kunsmisproduk te registreer. Aan die ander kant vervul NviroTek ’n waghond-rol om seker te maak dat dié kunsmis aan sekere standaarde voldoen. Volgens Pienaar is dit is veral voordelig vir die verbruiker wanneer moontlike dispute oor die gehalte van die eindproduk voorkom.

Die ontleding van watergehalte vir besproeiingsdoeleindes en menslike en dierlike gebruik, word op nasionale vlak deur NviroTek en Wynland behartig. Verskeie uitvoerkliënte maak van dié dienste gebruik om seker te maak dat die gehalte van water wat gebruik word, aan internasionale standaarde voldoen.

As deel van nuwe inisiatiewe vir dié laboratoriumgroep het NviroTek ’n lisensie bekom om twee nuwe tegnologiese dienste in Suid-Afrika te bied. “Nuwe tegnologie stel ons in staat om baie vroeg in ’n plant se lewensiklus ’n aanduiding van moontlike voedingstekorte te kry. Ons kan ook nou die stikstof-status in grond betroubaar bepaal, sodat produsente stikstofvlakke in die grond meer ekonomies kan bestuur. Daardeur kan vermorsing en besoedeling van water verminder word.”

Pienaar sê nog ’n reuse tegnologiese inisiatief sal hulle binnekort in staat stel om die teenwoordigheid van residu van landbou-chemikalieë op vars produkte te toets. Met dieselfde tegnologie kan hulle ook moontlike residue van groeistimulante en medikasie in vleisprodukte identifiseer.

Die NviroTek-groep, wat Wynland Laboratorium insluit, bied aan sy kliënte ’n koerierdiens wat die betrokke monster so vinnig as moontlik by die laboratorium sal besorg.

“In NviroTek se bestaan van nege jaar het ons meer as een miljoen monsters hanteer. Met die toevoeging van Wynland Laboratorium sal ons selfs ’n groter verskeidenheid dienste aan ons kliënte lewer wat die produksie van volhoubare, gehalte-voedsel vir mens en dier sal ondersteun,” sê Pienaar. – Persverklaring