ʼn Dreigende wyntekort noodsaak dat pryse opwaarts aangepas word om te verseker dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf volhoubaar kan voorsien.

Die wynbedryfliggaam Vinpro meld in sy amptelike jaarlikse Wynoesverslag 2018 dat wyndruifproduksie teen 1 220 920 ton sowat 15% laer as in 2017 is, en sowat 170 miljoen liter minder wyn vanjaar gemaak gaan word.

Die afname in wynproduksie kan aan ʼn voortslepende droogte, ʼn afname in oppervlak onder wyndruiwe én rypskade in sekere gebiede toegeskryf word.

Rico Basson

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het in 2017 altesaam 447 miljoen liter wyn in die plaaslike mark verkoop en 448 miljoen liter uitgevoer. In totaal is 895 miljoen liter dus verkoop – 3,5% meer as in 2016. In 2018 is die uitdaging dat laer produksie, tesame met voorraadvlakke wat ʼn ewewig bereik het, tot ʼn wesenlike wyntekort gaan lei en die bedryf dus nie teen 2017 se vlakke aan die plaaslike en uitvoermarkte sal kan lewer nie,” sê Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro.

Winsgewendheid onder druk

“Ná jare se finansiële druk het wyndruifprodusente ʼn inkomste-aanpassing van nagenoeg 30% nodig om ʼn meer winsgewende en volhoubare omgewing te verseker. Tans verdien hulle gemiddeld ʼn skamele 1% opbrengs op belegging, wat nie die vestiging van wingerde regverdig nie,” sê Rico.

Meer as ʼn derde van die wyndruifprodusente boer teen ʼn verlies en die bedryf het sowat 25% minder produsente as ʼn dekade gelede. Volgens die bedryf se strategiese raamwerk (WISE), moet wyndruifprodusente ʼn opbrengs gelykstaande aan die verbruikersprysindeks (VPI) plus 5% verdien om volhoubaar te wees, wat ander landbouvertakkings wel bied.

Heelwat wyndruifprodusente verlaat dus die bedryf, trek wingerde uit om plek te maak vir meer winsgewende gewasse, of vervang bloot nie wingerde nie. Die wingerdoppervlak het die afgelope tien jaar met nagenoeg 9% gekrimp.

“Die enigste manier om te verseker dat ons volhoubaar bly voorsien, is om hoër pryse vir ons wyne te vra. Sodoende het wyndruifprodusente voldoende finansies om nuwe wingerde te plant of ou wingerde te vervang en produksie te verhoog, wat hulle in staat sal stel om die reeds wesenlike belegging in sosiaal-ekonomiese aspekte soos verdere opleiding en opheffing te bespoedig,” sê Rico.

Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente is innoverend en het reeds oor die afgelope paar jaar baie gedoen om by veranderende weerpatrone wêreldwyd aan te pas. Dit sluit die gebruik van alternatiewe praktyke en tegnologie, en die belegging in nuwe, meer droogtebestande klone en kultivars in, terwyl die finansiële lewensvatbaarheid van wingerdblokke deurlopend geëvalueer en nuwe geografiese streke vir wingerdverbouing ondersoek word.

“Dis bemoedigend dat ons in die kort termyn reeds bewyse sien van bogemiddelde prysaanpassings in die Suid-Afrikaanse kleinhandel in sekere kategorieë, en verdere aanpassings word in die medium termyn verwag. In ʼn omgewing van voorraadtekorte sowel as die moontlikheid om in die plaaslike én uitvoermarkte mee te ding, is die werklikheid dat die hoogste bieër gaan wen,” sê Rico.

Groeiwaarde

ʼn Wêreldwye wyntekort het ʼn positiewe effek op volume- én waardegroei in die belangrikste uitvoermarkte.

Europa se wynproduksie is die laagste in sowat 45 jaar. Spanje, Frankryk en Italië is veral hard getref deur klimaatstoestande soos ryp en droogte. Die feit dat dit in hierdie drie lande gelyk gebeur het, dra by tot ʼn wesenlike afname in wyn wêreldwyd.

Vanuit ʼn Suid-Afrikaanse perspektief bied dit die geleentheid om goeie uitvoerooreenkomste te smee – nie net in volume nie, maar ook om waarde te groei. Tegniese aanpassings kan Suid-Afrikaanse uitvoerders die geleentheid gee om die ware voordeel uit die gehalte van die wyne wat die bedryf bied, te put.

ʼn Afname in volumes beskikbaar vir uitvoer kan Suid-Afrikaanse wynuitvoerders in staat stel om beter pryse met internasionale invoerders te beding.

Volgens Rico sal die tekort, soos met enige ‘krisis’ of eksterne impuls moontlik gesprekke aan die gang sit oor tradisionele besigheidsmodelle en die roete mark toe. “As internasionale neigings in aanmerking geneem word, glo ons dat opbouende gesprekvoering tot nuwe sakeverhoudings, samesmeltings en/of nuwe aankope kan lei.”

“Suid-Afrika se fokus op uitvoermarkte is tweeledig,” sê Siobhan Thompson, bedryfshoof van Wines of South Africa (Wosa).

“Eerstens hou die bedryf tradisionele markte in stand – die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Nederland, Swede, Kanada en Japan – tesame met waardegroei (rand per liter). Tweedens fokus die bedryf daarop om die volume én waarde van uitvoer te verhoog in markte met wesenlike groeipotensiaal soos die VSA, China en Afrika.

“Ons visie is om die beeld en siening van Handelsmerk SA deurlopend te verbeter, en Suid-Afrika te posisioneer as ʼn land wat van die beste wyn ter wêreld maak. Deur dít by internasionale verbruikers tuis te bring en in stand te hou, glo ons waardegroei sal volg,” sê Siobhan.

Wat wag om die draai?

Die Buro vir Ekonomiese Navorsing (BER) en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) voorspel dat die wingerdstand teen 85 000ha sowat 10% kleiner sal wees in 2022 as in 2017, produksie sal op 1,3 miljoen ton staan en die bedryf sal ʼn tekort van 120 miljoen liter wyn hê.

Daar word verwag dat gemiddelde grootmaat-wynpryse in die volgende jaar met sowat 15% gaan toeneem. “Dit, tesame met die bo-inflasie toename in aksyns en ʼn toename in BTW, sal geweldige druk op kleinhandel-wynpryse plaas. Verbruikers kan verwag om 8% tot 11% meer vir hul gunstelingwyn te betaal,” sê Yvette van der Merwe, besturende direkteur van Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -Stelsels (Sawis).

Die afwaartse kurwe in wynproduksie laat baie min ruimte vir volumegroei vorentoe. Maar in die lig van makro-ekonomiese faktore doen die geleentheid hom voor om volume én waarde te laat toeneem.

“Brandewyn, wat relatief pryssensitief is, sal waarskynlik oor tyd negatief geraak word soos wat voorraadbeperkings pryse beïnvloed,” sê Yvette.

Suid-Afrika is die agtste grootste wynprodusent ter wêreld en dra 4% tot wêreldproduksie by. Die wynbedryf dra R36 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by en het sowat 290 000 mense in diens. – Persverklaring